In 1986 het sy eerste treffer, “Laaste lag”, die lug gesien en vandag, bykans 40 jaar later, het Steve Hofmeyr steeds gehore gaande!

Die afgelope naweek (27 en 28 April) het Hofmeyr 40 jaar in die Afrikaanse musiekbedryf gevier met die tweede Steve Doen-vertoning by die Voortrekkermonument (VTM).

Na die wegholsukses van verlede jaar se Steve Doen Beautiful Noise, het duisende mense die afgelope naweek weer by die VTM kom kuier om saam te sing met Steve Doen Steve, waar die sanger sy grootste treffers oor die afgelope 40 jaar kom sing het.

“Hier staan ons vandag weer in die Amfiteater aan die voet van die mooiste monument in die land en ons geniet saam musiek in die mooiste taal,” sê Hofmeyr.

Hofmeyr vertel dat hy na 40 jaar in die bedryf steeds verstom en dankbaar is om te sien hoeveel mense, jonk en oud nog sy musiek geniet.

“Die idee van Steve Doen Steve was om 40 jaar in die bedryf te vier, maar vanaand was ek verras om te sien dat mense na al die jare steeds luister na my musiek,” sê Hofmeyr.

“Ek het besef dat daar sekere liedjies is wat onsterflik is en al wat ek kan sê, is dankie.”

Henk Maree, van die Voortrekkermonument, sê dit is vir die monument ’n groot eer om Hofmeyr al vir twee jaar lank hiér te kon verwelkom met sy Steve Doen-vertonings.

“Om een van die grootste Afrikaanse sangers hier by die monument te kan verwelkom, is vir ons ’n riem onder die hart.”

“Hofmeyr was nog altyd ’n groot ondersteuner van die monument, tog het die naweek bewys dat daar steeds duisende mense is wat inkoop in die Afrikaanse kultuur en geskiedenis en dít gee mens baie hoop,” sê Maree.

Steve Doen was vanjaar ’n sterbelaaide verjaarsdagvertoning en Hofmeyr het die Amfiteater-verhoog gedeel met sangers soos Pieter Smith, Armand Hofmeyr, Alouise, Ralph Michielsen, wat saam met Hofmeyr in sy eerste musiekgroep Dusk gesing het, Renaldo, Alba en Nadia, Elmé Churr en Jemma Cathrine.

Daar was ook so paar verrassings met Jannie Moolman wat dié aand die verhoog betree het om saam met Hofmeyr sy gewilde “My liefie my lyfie, my diefie my duifie” op te voer, en Nelmari wat die gewilde Don Williams-treffer “Amanda” saam met hom gesing het.

Pieter Smit, wat ook bekend is daarvoor dat hy saam met Hofmeyr die treffer “Agter Elke Man”, jare na dit oorspronklik opgeneem is, gesing het, vertel dat dit vir hom ’n eer is om die groot mylpaal saam met Hofmeyr te kon vier.

“Vanaand is ’n lekker fees hier in die mooiste stad, by die mooiste monument in die land. Dit is werklik ’n eer om die loopbaan van een van die beste sangers in Afrikaans hiér by een van die beste Afrikaanse monumente te kan vier,” sê hy.

Hofmeyr het die aand afgesluit en sy dank uitgespreek aan elke ondersteuner wat sy 40 jaar lange loopbaan moontlik gemaak het.

“Hier by ons monument, ons baken van hoop, kan mens nie anders as om dankbaar te voel nie. Ek weet eintlik nie hoe om dankie te sê nie, maar as ek my 40 jaar doodeenvoudig moet opsom: ‘dankie dat jy vir jou kinders dié liedjies gespeel het’.”