Mediaverklaring

26 September 2023

“Sukses kom met samewerking”

 

“Samewerking.” Dit was die sleutel tot sukses van die Afrikaner, sedert die Groot Trek tot vandag en op Erfenisdag vanjaar het die Voortrekkermonument (VTM), Saai en die Sinoville Brandbestrydersvereniging (SBBV) dié tradisie van hande vat, voortgesit met ’n besonderse skenking van ’n splinternuwe bakkie en brandweerwa.

Op 25 September het die VTM hul jaarlikse Erfenisfees aangebied met verskeie hoogtepunte, maar een van die mees spesiale oomblikke van die dag was toe die SBBV hiér kom kuier het om ’n nuwe bakkie en brandweerwa aan die monument te oorhandig.

Die bakkie sal by die VTM aangewend word en die brandweerwa sal na die Bloedrivier-erfenisterrein geneem word om daar brande te kan beveg.

Die SBBV het verlede jaar vir die VTM ’n brandwa geskenk en dit Rooinek gedoop, die brandwa van Bloedrivier is deur die SBBV-manne Weeskind gedoop, na die kanon wat tydens die Slag van Bloedrivier geskiet is.

Johan Botha, stigter van die SBBV, het tydens die oorhandigingseremonie gesê hierdie skenking dien as ’n simbool van samewerking.

“Sukses kom met samewerking.”

“Die SBBV het jare gelede al besef ons kan nie net na onsself kyk nie, ons moet ook na ons gemeenskap begin kyk. Ons het opgestaan en gesê ‘ons sal self’ en ons het besluit om hande te vat met Saai om ons land se boere by te staan, en vandag kom ons hierdie verhouding nog meer versterk deur hande te vat met die VTM en hulle by te staan om hul eie terrein(e) te beveilig,” sê Botha.

 

Hy het ook sy dank uitgespreek aan Gys Pitzer Motors wat saam met hulle gewerk het om ’n bakkie aan die VTM te skenk.

“Ons is ook baie dankbaar vir Gys Pitzer Motors wat die nood hier by die VTM raakgesien het en besluit het om met ons hande te vat en ’n bakkie te skenk.”

Wernando Stoltz, voorsitter van die SBBV, het Botha se woorde geëggo en sê die verhoudings wat ons bou, is ’n belangrike stuk gereedskap wat ons sal help om ’n beter toekoms te bou.

“Vandag skud ek hande met dokter Danie Langner, besturende direkteur van die VTM, en Theo de Jager van Saai as ’n simbool dat ons hande vat om ’n beter toekoms te bou,” sê hy.

“Ons het besluit om ’n nuwe brandweerwa, wat ‘Weeskind’ heet, te skenk om by die Bloedrivier-erfenisterrein, wat onder die bestuur van die VTM is, te gebruik. Weeskind is ook die naam van een van die kanonne wat tydens die Slag van Bloedrivier gebruik is en ons hoop dat dié wa ook so getrou diens sal kan doen op dié terrein.”

Dr. Theo de Jager het tydens die geleentheid ook gesê hy is trots op die verhouding wat hul organisasie met die VTM en die SBBV gebou het.

“Saai en die SBBV het besluit om in ’n verhouding in te gaan om ons land se boere by te staan, en vandag is ek baie trots om te sien dat ons ook deur ons verhouding kan teruggee aan die VTM.”

Dr. Danie Langner het sy dank uitgespreek aan elk van die organisasies vir hul ondersteuning en sê dié skenking is ’n versinnebeelding van die kan-kultuur wat die Voortrekkers deur die geskiedenis gevorm het.

“Dankie is ’n klein woord vir so ’n groot gebaar, maar vandag staan ons dankbaar en nederig voor Saai, die SBBV en Gys Pitzer Motors. Ons is dankbaar vir hul bydrae om ons monument te help beskerm.”

 

“By die VTM noem ons ons sekuriteitspan die Wenkommando en dit is lekker om te weet dat Weeskind en Rooinek vandag hul plekke as deel van die Wenkommando kan inneem. Ons kan nét wen as ons saamwerk en dinge self begin doen, en hierdie skenking is net weereens ’n bewys van die kan-kultuur waarmee die Voortrekkers hul nalatenskap gebou het,” sê Langner.