Deur Marike Kilian
Vir baie is sy slegs ’n voetnota in historiese geskrifte, ’n vrou in die skadu van haar man, pres. Paul Kruger, se roem. Gezina Susanna Frederika Wilhelmina Kruger (née Du Plessis) was egter veel meer as net “Oom Paul se vrou”. Sy was die spilpunt van ’n huishouding wat soos ’n tweede regeringsetel gefunksioneer het. ’n Stille mag wat die emosionele, praktiese en morele grondslag van die Kruger-era in die destydse Zuid-Afrikaansche Republiek gevorm het.
Met die viering van die 200ste herdenking van Paul Kruger se geboorte vanjaar, moet ons ook stilstaan by die lewe van dié merkwaardige vrou – die ongesiene, standvastige krag wat dié staatsman in sy roeping gedra het, en die daaglikse wysheid en deernis wat sy gelééf het.
Tant Siena, soos sy geliefd genoem is, se karakter was sigbaar in alles wat sy gedoen het: sag en vriendelik, maar altyd met ’n ferm hand en ’n duidelike sin vir plig. Gelowig, begaafd, gasvry, vaardig in alles wat sy aangepak het, en sy’t haar kinders met liefde en deernis, maar met ontsag en dissipline, grootgemaak. Hierdie eienskappe het nie net die Kruger-huishouding gevorm nie, maar weerspieël waardes wat vandag nog kenmerkend is van baie Afrikanerhuise.
Geanker in geloof Gezina Kruger was bekend as iemand wat min gevrees en haar hele lewe met ’n vaste vertroue in God geleef het. Sy het niks minder opgeoffer as enige ander Boervrou van haar tyd nie. Vier van haar seuns, vyf skoonseuns en 33 kleinseuns was op kommando, en vir elkeen van hulle het sy aanhoudend gebid.
Die jaar 1900 het groot uitdagings meegebring: die Britse leër het na Pretoria opgeruk en die regering het besluit om die president in ballingskap te stuur. Op 29 Mei vertrek Oom Paul, maar Tant Siena was te siek om hom te vergesel. Ná byna 55 jaar saam, het hulle geweet dat dit waarskynlik hul laaste groet sou wees. Toe sy die vertrek verlaat, het sy gesê: “Dit is die wil van God, en my bede is dat Hy jou sal behoede.”
Kort voor haar dood het sy nog vir hom ’n laaste boodskap neergepen: dat hy sy vertroue volkome in God moes stel. Daarom dra haar grafsteen vandag die woorde: “Stel U vertrouewen vast op den Heere.” Dit is eenvoudige herinneringswoorde wat haar lewe vergestalt – geloof wat nie net haarself gedra het nie, maar ook haar man en gesin in onsekere tye staande gehou het.
Geloof is vandag steeds ’n ankerpunt in Afrikanerhuise. Dit was vir generasies die grondslag waarop gesinne hulle sekerheid gebou het, ’n erfenis wat terugstrek na die Voortrekkers toe, waarvan Paul en Gezina self as kinders deel was.
Dade van deernis
Tant Siena het ’n oop hand en ruim hart gehad. Sy het gesorg dat nie net haar eie gesin nie, maar ook haar gemeenskap, nooit verhonger nie. Elke dag is melk van die plaas af aan behoeftige families uitgedeel. Tydens die Tweede Vryheidsoorlog het sy en haar familie by die
stasie gestaan om vars melk en kos aan die gevangenes op die treine uit te deel. Geen kamera’s. Geen applous. Net ’n moederhart wat nie kon wegkyk nie.
In haar eie huis het dieselfde gees geheers. ’n Vol spens, varsgebak, gestopte wors. En toe Paul besluit om permanent Pretoria toe te trek in 1881, het sy – teen haar sin – nie net haar trommels gepak nie, maar ook twee melkkoeie, hoenders, kalkoene en ’n bok saamgeneem. Want kinders moet eet. En sy het geweier om op dorpseiers en bottelmelk staat te maak. Haar liefde vir haar mense het gelê in die alledaagse seker maak dat daar vir ander voorsien word.
Hierdie ingesteldheid is nie iets van die verlede nie. In my eie ouerhuis sien ek dit steeds: my ouers wat gereeld help, gee, en sorg – vir familie, bure en vreemdelinge. Tant Siena se gees leef voort waar daar brood gebreek word en harte oopbly.
Egte Afrikanergasvryheid
Wanneer besoekers aan huis opgedaag het, het Tant Siena self die skinkbord met koffie, melktert en koeksisters ingedra. Daarna het sy teruggesluip kombuis toe – ongemaklik in deftige geselskap, maar meesterlik in haar kombuis.
Magdalena Eloff, die vrou van haar kleinseun Frikkie, skryf in haar vertellings van Gezina dat die huishoudster gereeld koek en beskuit gebak het. Die spens was altyd vol ingelegde vrugte, gedroogde perskes en ander lekkernye – nie uit oorvloed nie, maar uit vooruitbeplanning en sorgsaamheid. Op Sondae ná kerk het sy soms tot veertig mans met koffie en beskuit bedien.
Is dit nie steeds so in ons kultuur nie? Ná kerk, kuier ons saam oor ’n koppie koffie, eet koeksisters in mekaar se huise, sit om die vuur en braai. Hierdie skynbaar eenvoudige gewoontes is die goue draad wat Afrikanerhuise aan mekaar bind en die gemeenskapswaardes wat Tant Siena beliggaam het.
Ware nalatenskap
Wanneer ek vandag na Paul Kruger se standbeeld kyk, wonder ek: Hoeveel van daardie erfenis behoort nie eintlik aan haar nie? Sonder haar sou hy waarskynlik nie dieselfde leier gewees het nie. Hy kon sy roeping volg omdat sy die fondament was – ’n stil anker wat die storms van ’n nasie se geskiedenis saam met hom getrotseer het.
En miskien is dit juis die groter les van die Kruger 200-herdenking: Ons Afrikanererfenis is nie net generaals, presidente en veldslae nie. Dis ook vol spense, gloeiende stowe, gebed, gasvryheid en gemeenskapshande wat help. Dis ma’s wat opstaan voor sonsopkoms, oumas wat bak en bid, en vroue soos Tant Siena wat nie geskiedenis gesoek het nie, maar dit stil-stil gemaak het.
Sy is ’n simbool van alles wat goed en mooi is in ons kultuur. Nie net ’n vrou van die verlede nie, maar ’n voorbeeld vir die hede. Die tipe held wat ons nodiger as ooit het om ’n toekoms – net hier aan die suidpunt van Afrika – te bou.

Marike Kilian het ’n honneursgraad in korporatiewe kommunikasie en werk as kommunikasie- en bemarkingsbeampte by die Voortrekkermonument