Toe Paul Kruger in 1836 as elfjarige saam met sy familie en ander Voortrekkers die binneland ingetrek het, het niemand verwag dat dié jong seun eendag president van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) sou word nie.
Van kleins af het hy sy plek in die geskiedenis volgestaan, soos by Vegkop waar hy gehelp het om gewere te laai terwyl die volwassenes die laer verdedig het. Sy storie begin nie in ’n presidentswoning nie, maar veewagtertjie in die veld tussen kinders en families wat saam ’n nuwe toekoms probeer bou het.
Daarom het die jongspan ’n waardige plek tydens pres. Paul Kruger se 200ste verjaarsdagvieringe – ’n geleentheid waar hulle kan speel, lag en hul eie herinneringe kan maak. Op 24 September word die Pioniersentrum by die Voortrekkermonument omtower in ’n plek waar kinders veilig kan speel, leer en droom. En die beste van alles? Die kinderprogram is gratis, en sluit boonop gratis toegang tot die terrein en Monument in.
Hierdie program bied ’n kleurloop, skattejag, gesigverf en ’n inkleurkompetisie, asook die Kierang-buikspraakpoppe wat sal sorg vir skaterlag. ’n Modeltreinuitstalling maak die program nog lekkerder en beloof om jonk en oud vasgenael te hou voor die klein wêreld wat lewend word. By die Lewende Laer kan klein handjies self deeg rol en hul stokbrood oor die vlamme sien gaar word.
Vir die jong avonturiers wag daar boonop ponie- en kameelritte, trapkarretjies, ’n treintjie en ’n springkasteel. Hiérdie aktiwiteite kan teen ’n geringe addisionele koste geniet word. Ouers kan gerus wees: die terrein is veilig, kindervriendelik en goed beman, sodat almal die dag sorgeloos kan geniet.
Selfs die verversings dra ’n stukkie geskiedenis. Magda Eloff, die vrou van Paul Kruger se kleinseun Frikkie, het vertel dat Kruger elke aand ná ete melk gedrink het en dat sy huis altyd vol gebak was. In daardie gees bied die organiseerders vir kinders Kruger-melkies en Kruger-kolwyntjies aan teen net R50 per kind – ’n soet herinnering aan die eenvoud en warmte van die Kruger-huis.
Dié dag is meer as ’n verjaarsdagpartytjie. Dit is ’n dag waar kinders die storie van Paul Kruger deur spel en verbeelding kan ontdek, en waar ouers saam met hul gesinne die erfenis van ’n nasie kan vier. Net soos Kruger as kind begin bou het aan sy toekoms, word kinders vandag herinner dat húlle die draers van môre is.
Klik hier om jou en jou kinders se plek vir 24 September te bespreek: https://vtm.org.za/kruger-200/. Kom wys vir hulle waar groot drome begin.



