Mediaverklaring

1 November 2023

Twee vroue, agt generasies uitmekaar, op kamera vasgevang by die VTM

 

Karla Burger, ’n matriekleerling aan Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria, het nie net haar matriekafskeidfoto’s by die Voortrekkermonument laat neem omdat dit ’n mooi perseel en monument is nie, maar vir ’n merkwaardige ander rede.

Sy is ’n afstammeling van Johanna Magdalena Retief (née Greyling), Piet Retief se vrou.

“Die matriekafskeid is ’n dag wat deel is van my storie, Karla (betekenis sterk vrou), die storie begin egter nie by my nie, dit begin by al die ander sterk vroue voor my. Dit was vir my belangrik om op so spesiale dag nie net ’n mooi plek te hê om foto’s te neem nie, maar ’n plek wat meer betekenis het as dit. Die Voortrekkermonument het my laat nader voel aan my oumagrootjie van agt generasies terug, Johanna Magdalena Greyling/Retief (Piet Retief se vrou). ’n Sterk vrou wat deur so baie moes gaan vir my om vandag hier te kan wees.”

Karla se ouers is ook 20 jaar gelede by die Voortrekkermonument getroud. Sy het spesiale toestemming gekry om ’n paar foto’s voor die Retief-plate af te neem. Die fotograaf Daniel West het uitstekende werk gedoen om die spesiale oomblikke vas te vang.

“Ek het al ten minste 10 keer in my lewe die Voortrekkermonument besoek. My koor, die Blou Engele, se afsluiting was in 2021 by die monument gehou en dit was ’n onvergeetlike ervaring. Ek was ook bevoorreg genoeg om by die Voortrekkermonument te wees met Geloftedag, dit was vir my ongelooflik dat so baie mense daar was om die Gelofte na te kom.”

Karla gaan volgende jaar BSc Bedryfsanalise aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom studeer. Haar grootouers het albei in Potchefstroom hul studies voltooi en dit is ook hier waar Johanna Magdalena Retief oorlede is.

Hoekom dink sy moet mense die Voortrekkermonument besoek?

“Nie net is die Voortrekkermonument ongelooflik mooi nie , maar daar is baie plek om te stap, piekniek te hou en selfs perd te ry. Dit is ook ’n manier om van ons geskiedenis te leer en dit te laat bly voortleef. Maar die belangrikste veral is om op 16 Desember die belofte aan God na te kom. Daar staan in die Gelofte ‘Dat ons ’n huis tot Sy eer sal oprig waar dit Hom behaag, en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte.’ Die Voortrekkermonument is daardie huis en ons is die opkomende geslag.”