Vandag (8 Junie) het die Voortrekkermonument ’n opwindende nuwe hoofstuk afgeskop met die amptelike opening van die nuwe Uitspan Deli.

Die monument het 2024 op ’n hoë noot ingelei met die ontwikkeling van ’n nuwe Markplein, ’n nuwe uitstalling in die Pioniersentrum en nou ook die Uitspan Deli.

Samantha Müller, bestuurder van fasiliteite by die Voortrekkermonument, sê dié veranderinge beloof om die monument se reeds uitstekende kultuuraanbod net nog beter te maak en die monumentterrein dié plek te maak waar Suid-Afrikaners en ons oorsese besoekers kan tuisvoel.

“Ons het oor die afgelope twee maande hard gewerk aan die ontwikkeling van die Uitspan Deli en ek is baie trots om die deure vandag amptelik te kon open,” sê sy.

Saam met die opening van die nuwe deli het die monument ook vanjaar ’n splinternuwe produktereeks en Kultuurkafee bekend gestel wat nou ook ’n tuiste het in die Uitspan Deli.

Müller vertel dat die Kultuurkafee die monument net verder in staat stel om die mooi van die Afrikanerkultuur die wêreld in te dra.

“Ons produktereeks vier die mooi van ons taal en ons kultuur. As hier oorsese toeriste kom kuier, kan hulle nóú ’n stukkie van Suid-Afrika en van die Voortrekkermonument met hulle saamvat; of dit nou ’n bierbeker is met die gesig van ’n Groot Trek-leier, ’n Voortrekkerkappie en voorskoot, ’n kettie of ’n emmertjie vol lekkernye, hiér kan oud en jonk ’n stukkie Afrikanerkultuur met hulle saamvat.”

Die Kultuurkafee is eg Suid-Afrikaans met produkte soos boerseep, flesse, unieke Afrikaanse ontwerpe soos Paul Kruger wat op ’n beker aankondig “Los my volk en koffie,” Voortrekkerdogter-papierpoppies en tuisgemaakte skoonheidsprodukte. Jy kan selfs ou gunstelinge soos Bar One en Smarties, met ’n kinkel, hier kry.

Al hierdie produkte is ontwikkel deur die Voortrekkermonument-personeel en ontwerp deur Belinda Naudé, die kultuurtuiste se grafiese ontwerper.

“As die uitbreiding van die deli en die Kultuurkafee een ding bewys het, is dat ons personeel ongelooflik kreatief is. Dit was ’n absolute voorreg om saam met so goeie span die Uitspan Deli en Kultuurkafee te kon ontwikkel en ek hoop binnekort sal elke Afrikaanse huisgesin ’n stukkie van die monument in hul huise hê,” het Müller ter afsluiting gesê.

Isabel Groesbeek, wat al vir jare op die monumentterrein werk as deel van die FAK se genealogiese lessenaar, het tydens die opening gesê sy is baie opgewonde oor dié nuwe deli.

“Uitspan Restaurant was ’n lekker plek vir oud en jonk om te kuier en bietjie te rus, maar ek dink hierdie nuwe deli bied regtig vir mense die geleentheid om hulself uit te leef in hul kultuur. Die produkte is pragtig en dit maak my opgewonde om te weet ons het nou produkte wat eie is aan ons en die monument,” sê sy.

Adv. Marius Ackermann, voorsitter van die Voortrekkermonument se direksie, het saam met Müller die lint geknip en sê hy is trots om te sien hoe die monument, die restaurant, deli én uitstallings van krag tot krag gaan.

“Ek is baie trots op Samantha en haar span vir die ontwikkeling van ons nuwe deli. Dit maak ons altyd opgewonde as ons die monument kan vernuwe en kan uitbrei, en veral die nuwe deli kan help om ons storie op ’n nuwe manier te vertel,” sê hy.

Kom kuier by die Uitspan Deli, want hiér kuier ons lekker.