Mediaverklaring

9 Desember 2023

Van Bloedrivier tot Bosoorlog: inspirasie vir die toekoms

“In hierdie toneel wil ons die kyker op ’n tog neem deur ons geskiedenis – van een van die belangrikste veldslae in ons geskiedenis, tot by konsentrasiekampe en die Bosoorlog,” sê afgetrede genl.maj. Lawrence Smith, voorsitter van die Pro Patria Museum (PPM).

Van Bloedrivier tot Bosoorlog is ’n toneelstuk van drie ure waar die grootste oorloë van Suid-Afrika in vier bedrywe saamgebind word.

Dié toneel het in  Gelofteweek by die Voortrekkermonument op 8 Desember 2023 in die feestent afgeskop. Van 8-15 Desember is die program volgepak met toneelstukke, sangoptredes en vele ander aktiwiteite.

Wat Van Bloedrivier tot Bosoorlog opvallend maak, is die jong talent wat op die verhoog gesien word. Die jeugdigheid van die seuns wat in die toneelstuk aan die oorloë deelneem, raak die kyker se hart en mens besef meteens hoeveel jongmanne hul lewe prysgegee het.

“Die ontledings wat in die toneelstuk gemaak word, is uitstekend. Veral die analise rondom Emily Hobhouse en Tibbie Steyn. Ek gaan beslis my kinders stuur om die toneelstuk te kom kyk,” sê Karel Prinsloo.

“Hierdie toneelstuk is uitstekend! Ek het dit baie geniet. Die boodskap in die toneel kom sterk na vore,” sê Gert Potgieter.

Vir Leonie Marais was die toneel ook ’n inspirasie. “Ek ken die Suid-Afrikaanse geskiedenis baie goed, maar na ek die toneelstuk gekyk het, het ek self addisionele inligting geleer.”

Mense wat Gelofteweek besoek, kan uitsien na nog vele ander toneelstukke soos Dinner for one, Omwenteling, Op die plaas en die Liewe Heksie toneel. Van Bloedrivier tot Bosoorlog word die 9de, 13de en 15de Desember weer opgevoer.

Kaartjies vir Gelofteweek kan op die Voortrekkermonumentterein of aanlyn gekoop word. Sien die volledige program vir Gelofteweek op die Voortrekkermonument se webwerf: https://vtm.org.za/gelofteweek-2023/.

Op die 16de Desember maak die Voortrekkermonument reg om duisende mense vir Geloftedag te ontvang. Dié dag kan heeltemal gratis bygewoon word. Registreer jou plek hier om jou gratis sangboekie te kry: https://vtm.org.za/gelofteweek-2023/#registreer.

Is jy een van die 185 000 Afrikaners wat nog Geloftedag vier? Registreer jou plek hier: https://vtm.org.za/gelofteweek-2023/#vtm185