Van die inwyding tot nou: manneklub besoek die VTM

26 Oktober 2023

 

Twee getroude paartjies, wat ook by die inwyding van die Voortrekkermonument was in 1949, het gister die Voortrekkermonument saam met die Midstream manneklub besoek.

Die groep het ’n begeleide toer deur die Voortrekkermonument meegemaak, ’n kanonskoot-demonstrasie gekyk en daarna ’n heerlike ete in die Kruger-galery geniet.

“Die meeste mense in ons klub is ongeveer 77 jaar oud. Ons raak afgesonder van mekaar, so die idee van die manneklub is om bymekaar te kom en mekaar beter te leer ken,” sê Beinie Biesenbach, voorsitter van die klub.

Lynette Niemand was as dogtertjie by die inwyding van die Voortrekkermonument. Sy onthou hoe hulle agter die koppie gestaan het en die optogte gekyk het. Dirk Niemand, haar eggenoot, vertel dat sy broer in die perdekommando was die dag van die inwyding.

“Sedert die inwyding van die monument het dinge soveel verander. Dit roer my hart om hier te wees,” sê Dirk Niemand.

Johan van Reunen en sy vrou Johanita was ook by die inwyding van die monument, maar was sedertdien by byna elke groot geleentheid wat in die geskiedenis van die Voortrekkermonument plaasgevind het, soos toe die hekelkomberse oor die trappe neergelê is.

“Vandag was my eerste begeleide toer by die Voortrekkermonument. Dit was asemrowend en ek het so baie geleer,” vertel Johanita.

“Ja,” beaam haar man, “ek het nou baie beter begrip van waar alles by die geskiedenis inpas.”

Dit is vir die Voortrekkermonument altyd ’n eer om groepe soos die manneklub te ontvang en mense te ontmoet wat self ’n deel van die monument se geskiedenis beleef het. Jou vriendskap kan ons help om voort te bou en ons kulturele erfenis verder toeganklik te maak vir die nageslag: https://vtm.org.za/donasies/.