Deur Etienne Hansen
Die Anglo-Boereoorlog het die Afrikaner soos geen ander gebeurtenis in ons geskiedenis gewond nie. Die kinders moes die letsels van oorlogsmarte dra en uit die as van ’n verskroeide aarde, ’n nuwe toekoms bou, ’n groeiende aarde skep. Op 16 Junie, Konsentrasiekampdag, treur ons nie net oor die duisende wat in vergete kindergrafte lê nie, ons bring ook hulde aan klein handjies wat uitgestyg en diep spore die beter toekoms in getrap het.
Een só ’n konsentrasiekampkind wat uiteindelik ’n baken van toekomshoop uit sy pen laat vloei het, aan ’n droom gestalte gegee het van ’n Monument wat vir ’n duisend jaar moes staan, is Gerard Moerdijk.
“Hoe aaklig leeg”
Moerdijk is op 4 Maart 1890 in Nylstroom gebore. Sy ouers was Nederlandse immigrante wat hulself skaars twee jaar tevore in die land gevestig het. Met die uitbreek van die oorlog was Volksrust hul huis. Pa Jan het sonder skroom by die Vryheid-kommando aangesluit. Toe die onweerswolke van onveiligheid oor Volksrust begin opsteek, het Ma Cornelia en die vyf kinders saam met hul goewernante by familie in Amersfoort gaan bly.
Tydens hul verblyf in dié dorp, het Gerard in 1901 ernstig siek geword. Toe die Britse troepe onder lord French deur Amersfoort trek, is Gerard ná ’n lang gepleit in die oorloghospitaal opgeneem en vir blindedermontsteking behandel. Cornelia kon daarin slaag om toestemming te kry om in Amersfoort aan te bly omdat Gerard nog te swak was.

Kort voor lank is die Moerdijk-gesin egter ook weggevoer. Oor hierdie dag vertel Gerard jare later: “Ma het ’n paar komberse gered en haar naaimasjien. Verder het ons net die klere aan ons lyf gehad. Ons is halsoorkop almal op ’n wa gelaai,” lees ons in Man en Monument: die lewe en werk van Gerard Moerdijk deur Irma Vermeulen, Moerdijk se dogter.
Jan het eers later gehoor wat met sy gesin gebeur het. Op 4 Mei 1901 skryf hy in sy dagboek: “Na Amersfoort. Familie weggevoer, onbekend waarheen. In woning alles in wanorde … Uit voorhuis vyf stoele weg. Hoe aaklig leeg! Dis al herinneringe aan vrou en kinders! God behoed hulle.”
Gestroop in tentnommer E/4
Vir ses angsvolle weke is die gesin in ’n ossewa vervoer voordat hulle by die konsentrasiekamp buite Standerton afgelaai is. Tydens hierdie paar weke is die 11-jarige Gerard en sy jonger sibbes aan die naakte wreedheid van oorlog blootgestel. Tant Miem Fischer, ook ’n inwoner van die Standerton-kamp, skryf op 5 Junie 1901 in haar kampdagboek: “In die voormiddag was ons naby Standerton. Soos ons verbytrek, word al die huise verwoes en al die bome afgekap; skape word by hope geslag en dan weggegooi; sulke plekke sien daar verskriklik uit.”
In tentnommer E/4 het die Moerdijk-gesin ’n tuiste geskep. Omdat Jan ’n vegtende burger was, is hulle as “ongewenstes” beskou en ’n veel kleiner kosrantsoen ontvang. Gerard vertel oor die tyd in die kamp: “Elke middag moes ons miskoeke optel wat ma dan die volgende oggend gebruik het om vuur te maak onder ’n paraffienblik. Daarin het sy ons klere gekook. Omdat ons elk net een stel klere gehad het, het ons kaal in die tent gesit en van mekaar luise afgetrek. Die Engelse tente was vervuil van luise.”
Die dood was ’n daaglikse realiteit gewees. Gerard het later vertel: “In die tent langs ons s’n was daar ’n mev. Swart met ’n hele span kinders. Ons het maats gemaak, daar was agt van hulle, maar in één week is al agt dood.”
Ná die oorlog het die gesin hulself in ’n huis gevestig wat hulle reeds voor die oorlog in Villieria gekoop het. Dis juis hier, in die hoofstad van die destydse ZAR, waar Gerard se bewondering vir argitektuur ontstaan het. Die gesin was brandarm, maar met harde werk het Gerard in 1909 met lof aan die Pretoria Boys High School gematrikuleer.
Reeds op die ouderdom van 16 jaar, in 1906, het hy vir ’n skamele salaris van £10 per maand as assistenttekenaar by die Departement van Openbare Werke gewerk. Met die geld wat hy die vorige drie jaar gespaar het, kon hy na Engeland reis om by die Architectural Association te studeer. Met sy terugkeer na Suid-Afrika in 1913 ontvang hy die eerste prys vir sy ontwerp van ’n kerk in Bothaville. In sy loopbaan het hy meer as 80 kerke ontwerp, asook verskeie banke, hospitale, sakegeboue, stadsale en privaat wonings.
In 1936 het die grootste prestasie van Gerard se loopbaan hom te beurt geval toe die Volksmonumentkomitee op sy ontwerp vir die Voortrekkermonument besluit het. Die Monument is in 1949 voltooi.

Vandag staan die Monument nie net as ’n herinnering aan die Voortrekkers nie, maar dis ’n stille getuie van die kampkind van Standerton se deursettingsvermoë en harde werk wat ten spyte van die trauma van sy kinderjare, uit die puin en as van oorlog en armoede verrys het.
Mag ons as jongmense hoop vind uit Moerdijk se verhaal, ons nie vasstaar teen die uitdagings rondom ons, die verskroeide aarde van vandag nie, maar aktief bou aan ’n groeiende aarde vir generasies wat kom.
- Etienne Hansen (20) studeer BSocSci by die AP Akademie en is ’n geskiedenisnavorser by die FAK en Erfenisstigting.