Mediaverklaring

8 November 2023

Vegkop-direksie besoek die Voortrekkermonument

Die Vegkopmonument-direksie het al die pad van die Vrystaat gereis om hul wortels by die Voortrekkermonument te herontdek.

Op 8 November 2023 het Die Vegkopmonument se direksie die Voortrekkermonument en museumteater besoek. Die museumteater was vir die groep ’n groot hoogtepunt.

“Die museumteater was vir my ’n uitnemende ervaring. Dit raak ’n mens se hart. Dit is moeilik om ’n spesifieke toneel uit te sonder. Ek gaan definitief my gesin bring,” sê Jasper van der Bijl.

“Ek kyk met heimwee na die museumteater. Dit is baie goed saamgestel. ’n Mens kan baie baat en leer daaruit om te sien hoe die geskiedenis geloop het,” sê Johann Stadler.

“Jong mense kan ook daarby baat vind. Die boodskap van hierdie teater wys juis hier is nog ’n toekoms in ons land. Suid-Afrikaners is deur diep waters, maar ons het elke keer daardeur gekom,” sê Stadler.

Corné van der Merwe vertel ook dat die museumteater vir hom ’n unieke en moderne alternatief vir ’n museum is. “Op hierdie manier word daar meer konteks gegee vir die gebeure. Dit was vir my ’n baie besonderse ervaring.”

Na afloop van die museumteater het die groep ’n toer deur die Voortrekkermonument ontvang, gelei deur dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument.

Die Slag van Vegkop was die eerste groot veldslag tydens die Groot Trek en die Trekkers het ’n oorwinning behaal. Paul Kruger as jong seun was ook by hierdie slag betrokke. Die Vegkop-monument en museum kan vandag besigtig word in die Vrystaat.

Die groep het ook ’n foto geneem voor die Vegkop-fries in die monument.