Erika Dykes was in die besit van ’n erfenisskat wat die Groot Trek en ses geslagte in haar familie oorleef het, tot sy besluit het om dit aan die Erfenisstigting te skenk.

Dié Voortrekkerkappie is handgemaak deur Maria Wilhelmina Helena Engelbrecht (Odendaal), wat in 1816 in die Kaapkolonie gebore is. Maria en haar man het op Bo-Boesmansrivier gewoon en het in die vroeë 1840’s na Natal getrek.

“Ek is die laaste in die lyn van afstammelinge waarlangs die kappie haar pad deur die jare gevind het. Ek weet sy is nou in veilige bewaring en ook beskikbaar vir diegene wat navorsing mag doen oor verskeie aspekte van die Voortrekkergeskiedenis,” sê Dykes.

Dykes vertel verder dat vir vroue in die geskiedenis wat kappies gedra het die woorde “kaalvoet oor die Drakensberge” werklike betekenis gehad en hulle aangespoor het in swaar tye. “Ons gebruik die gesegde nou dikwels in ligter luim, maar dit gee ons tog ’n hupstootjie en ’n glimlag in tawwe tye. Die kappie is die fisiese berge en die berge van die lewe is ongedeerd oor en ’n simbool van ‘ek kan’ vir elke vrou.”

Volgens Lizette Jansen, van die Erfenisstigting, wil dit voorkom dat die kappie ’n tydelike kiskappie is.

“Die Voortrekkers het verskillende kappies gedra. Vir daaglikse gebruik was dit gewoonlik die gewone wit kappie soos ons dit ken, maar elkeen het minstens een gekleurde kappie gehad wat gehou is vir kerk toe gaan en netjiese geleenthede. ’n Persoon sou ook in hierdie kappie begrawe word, daarom ’n kiskappie,” vertel Jansen.

Die besonderse kappie is ’n liggroen kleur en word in ’n raam bewaar, wat dit maklik maak vir uitstalling.

“Ons sal hierdie kappie graag wil uitstal. Dit is vir ons besonders om vir ’n slag ’n ander tipe kappie te ontvang. Dit is ’n baie spesiale stuk erfenis. Ons is bly dat dit behoue gebly het,” sê Jansen.

Petra Luus, museumkurator by die Erfenisstigting, vertel dat sy ook baie beïndruk is met die toestand van die kappie. “Dit is baie moeilik om historiese items van soveel jare terug te bewaar, veral ’n lapitem soos hierdie kappie,” vertel Luus.

Die Erfenisstigting is altyd dankbaar vir kosbare skenkings wat ons weer vir die nageslag kan bewaar. Jou vriendskap help ons om ’n nalatenskap vir jou kinders agter te laat: www.vtm.org.za\donasies\