Mediaverklaring

24 Oktober 2023

Voortrekkermonument die beste museum, plek om ’n toeris heen te bring

 

Die Voortrekkermonument het vandag (24 Oktober 2023) twee toekennings van Capital Media se Rekord-streekskoerant in Pretoria ontvang vir die “beste museum” en “beste plek om ’n uitstedige persoon heen te bring”.

Adri Bouwer van Capital Media, wat agt publikasies van die plaaslike Rekord-koerant in die hoofstad insluit, het die glansgeleentheid by die Pretoriase Botaniese Tuine gereël.

“Al die organisasies wat vandag hier ’n toekenning ontvang, is steunpilare wat Pretoria en die hoofstad help om suksesse te behaal,” sê Bouwer.

Dié goeie nuus is ook tydens ’n spesiale funksie aan die Voortrekkermonument se personeel gekommunikeer waar die vakkundige komitee en die voorsitter van die direksie, Marius Ackermann, teenwoordig was.

“Hierdie toekenning is die resultaat van baie harde werk. Ons wil ook dankie sê aan elke Rekord-leser. Ons wil julle nooi om meer en weer te kom kuier. Dié toekennings is ook nog ’n bewys dat die monument werklik ’n baken van hoop en kultuurtuiste is waar almal welkom is,” sê Langner.

“Dit is die grootste eer en voorreg en te danke aan baie harde werk en toewyding. Ons het ook die grootste waardering vir die ondersteuning van die Pretorianers se kant af,” sê Marius Ackermann, voorsitter van die Voortrekkermonument.

Rentia Landman, direksielid van die Voortrekkermonument, het ook daarop gewys dat die Voortrekkermonument geen staatsubsidie ontvang nie en dat dit hierdie toekennings nog ’n groter eer en prestasie maak.

Meer as 140 toekennings is aan verskeie organisasies en maatskappye oorhandig wat ’n kernrol speel om die hoofstad van die land tot hoër hoogtes te lig.

Jou vriendskap kan ons help om ’n kultuurtuiste te wees waar alle mense welkom is om hul erfenis te beleef. Sluit hier aan: https://vtm.org.za/donasies/