Sou enigiemand dink dat ons 75 jaar na die opening van die Voortrekkermonument ’n aktrise sou aanstel om die Afrikaner se verhaal te kan uitvoer?

Ontmoet die veelsydige jong energieke 24-jarige Kristen Naudé.

Die Voortrekkermonument het in 2023 die unieke museumteater geopen en spog met ons nuwe, talentvolle aktrise, Naudé.

Sy het drama as ’n ekstra vak op skool geneem en haar liefde vir die verhoog het straks posgevat. Dit het haar lewe so beïnvloed dat sy besluit het om het haar BA-graad in Drama aan die Universiteit van Pretoria te doen.

“Ek was nog altyd passievol oor drama. Ek het al op 13 geweet, hierdie is my ding. Dit is wat ek wil doen,” vertel Naudé.

“Die tye wanneer ek op my beste is, is op die verhoog. Dan voel ek die meeste soos myself. Drama daag my ook uit om uit my gemaksone te kom,” sê Naudé.

Naudé was in Hoërskool Hendrik Verwoerd, nou Hoërskool Rietondale, waar sy haar liefde vir drama ontwikkel het.

“Ons skool het ’n dramastudio gehad en ek het daar floreer. Dit was vir my heerlik om by ons skool se drama betrokke te wees. Ons skool was baie naby aan die Pierneefteater. Al ons optredes en eksamens het in die Pierneefteater plaasgevind. Vir my was dit ’n baie goeie plek om te begin,” sê Naudé.

Dié talentvolle jong dame het ook kuns as ’n vak op skool gehad en geniet dit om te teken en om skilderye te ontleed. Sy skryf ook graag in haar vryetyd. Kristen vertel dat die museumteater se draaiboek haar werklik inspireer.

“Ek het as tiener soms ‘verkeerd’ gevoel om Afrikaans te praat. Daar is soveel stigmas oor Afrikaans en Afrikaanse mense. Ons is eintlik so divers as ’n groep mense. Die afgelope paar jaar het my liefde vir Afrikaans en kultuur ontwikkel. Dit is my identiteit. Ek kan dit nie verander nie, daarom leef ek dit trots uit.”

“Toe ek die eerste keer deur die museumteater stap en die storie vir my vertel word, het dit ’n vuur binne my hart wakker gemaak. Ek besef nou die erns van ons mense en waar ons vandaan gekom het, dit is iets wat ek voorheen nie heeltemal ‘gekop’ het nie.”

Kristen wil mense aanmoedig om by die museumteater te bespreek en die toneelstuk te kom kyk.

“Mense kan by hierdie toneel baat om hulle persepsie oor wie Afrikaners is beter te verstaan en miskien te verander. Ons het ’n wonderlike storie en dit moet vertel word. Mense moet weet wie ons is en wat ons kan doen as deel van ’n nasie.”

“Die boodskap van die museumteater is van toepassing op enige situasie vandag.”

Wie is Kristen by die huis?

Kristen se pa is haar rolmodel en inspirasie. “Hy is ’n kunstige mens en ondersteun my nog al die pad. Ek wil hom graag nou uitvat vir ete om dankie te sê.”

Sy hou van rekenaarspeletjies en beskou dit as ’n lekker manier van tydverdryf. “Rekenaarspeletjies is soos digitale dramas. Daar is ook toneelspel betrokke en ’n teks wat geskryf word. Ek hou daarvan om myself in ’n storie in te leef.”

Sy is ook baie lief vir skryf en skryf graag haar eie gedigte. Sy sal ook een van die dae graag aan boeke wil begin werk.

Kristen is baie lief vir haar kat, Misty, en sal haar vir niks in die wêreld verruil nie. Kristen se gunstelingdier daarteenoor is egter ’n skaap. “Ek is baie opgewonde om elke keer die skape by die Voortrekkermonument se plaaswerf te sien. Mense moet kom kyk hoe oulik hulle is!”

Die Voortrekkermonument is baie in ons skik met Kristen se aanstelling en weet dat sy nog baie mense met haar toneelspel in die teater sal inspireer.

Wat is die Toekomsbou-museumteater?

Die Toekomsbou-museumteater is die eerste van sy soort, nie net in Suid-Afrika nie, maar in die Suidelike Halfrond. In plaas daarvan dat mense deur ’n “dooie” museum stap en teks lees, word die storie lewendig en interaktief vertolk deur akteurs. Die Afrikaner se storie word in 120 minute en 12 tonele vertel. Iemand wat niks weet van Afrikanergeskiedenis nie, sal na ’n vertoning uitstap met ’n redelike idee en verstaan van die tydlyn. Dit is beslis ’n belewenis!

As jy belangstel om die museumteater te besoek, stuur ’n e-pos aan besprekings@kultuurtuiste.org.za of klik op hierdie skakel: https://www.q2b.co.za/OnlineActivities/Index/1552?singleActivity=24393