Deur Marike Kilian
Dit is vanjaar presies 187 jaar sedert die Gelofte op 15 Desember deur 464 Voortrekkermans op die vooraand van die Slag van Bloedrivier afgelê is. Hoewel die Voortrekkervroue nie in die laer was tydens die Gelofteaflegging of die veldslag nie, moet hulle rol in die vestiging van geloofsafhanklikheid en sterk waardes geensins onderskat word nie. Trouens, deur die opvoeding van kinders, die versorging van die gesin en die volharding in die alledaagse ontberings, het hulle ’n diep geestelike en kulturele grondslag help lê sodat die Gelofte vandag, byna twee eeue later, nog gedenk en bewaar word.
Voortrekkervrou se vrug
Die Voortrekkervrou se rol in die Groot Trek was prakties, maar ook geestelik. Sy het die wa vir die trek voorberei, kos en klere voorsien, en die huisgesin onderrig terwyl die wêreld rondom haar onstuimig en onseker was. Die wa was haar kombuis, haar klaskamer, haar hospitaal en haar gesin se skuilplek. Sy het seildoektente met haar eie hande met naald en gare gewerk, seep van vet gekook, brood in miershope gebak en seker gemaak dat die Statebybel gepak is.
Terwyl die mans op verkennings- of jagtogte was, het die vroue, benewens hul daaglikse pligte, dikwels self die kinders onderrig, veral in geloof en godsdiens, want onderwysers was skaars op die trek. Die Voortrekkers was diep gelowig, en selfs in die eenvoud van ’n wa of tydelike kamp het hulle saam godsdiens gehou. Dit is juis daardie geloofsvolharding waaruit die gees van die Gelofte gespruit het.
Volharding en vasberadenheid Magdalena Retief en Anna Steenkamp is twee name onder honderde. Magdalena Retief se verhaal is nie bekend vir haar groot heldedade nie, maar vir die volgehoue toewyding van ’n tipiese Voortrekkervrou en -moeder. Sy het haar gesin in voor- en teëspoed bygestaan, en selfs ná die moord op haar man en die verlies van haar seuns het sy ’n voorbeeld van standvastigheid te midde van hartseer gestel. Sy was ’n bron van raad en vertroosting vir ander vroue. Anna Steenkamp, wie se lewe ’n kroniek van beproewings was – siekte, dood, oorlog en verlies – het steeds fier en ononderbroke volhard.
Hulle verteenwoordig nie uitsonderings nie; hulle weerspieël die norm van arbeid, geloof en vasberadenheid gedra.
Elsabe Brink skryf in Man-made women: Gender, class and the ideology of the volksmoeder dat latere geskiedenisskrywers daarop wys dat die vroue van daardie tyd met besondere moed opgetree het. Deur hul lyding en opoffering het baie hulle as ware patriotte van hul volk beskou. As ’n mens die lyding van die moeders en dogters in daardie vroeë dae in ag neem, is dit geen wonder dat die diepste liefde vir volk, geloof en vryheid juis onder die vroue gevind is nie.
Selfs die gevaarlike oorgang van die Drakensberg beeld hul vasberadenheid uit. Die trekkers het getwyfel of dit moontlik sou wees, maar die vroue het aangedring: die trek moet voortgaan. Hulle het nie net hul gesinne en gemeenskappe ondersteun nie, maar ook ’n beslissende rol in die verloop van die trek gespeel. Iets wat treffend in die Kaalvoetvrou-monument verewig is.
Vroue as medebewaarders van die Gelofte
Brink skryf tereg dat die Afrikanervrou nie net die hoeksteen van die huis was nie, maar ook ’n verenigende krag binne die volk self geword het. Haar arbeid, grootliks ongesiens en onbetaald, het nie net die gesin onderhou nie, maar ook die gemeenskap gevorm.
Hoewel die Gelofte slegs deur die mans in die laer afgelê is, het die vroue die daaglikse omstandighede geskep waardeur die betekenis en waardes daarvan deur generasies oorgedra kon word. In haar hande is kinders grootgemaak wat uit haar geloof, dissipline en verantwoordelikheid geleer het. Die Gelofte het in die jare ná 1838 lewend gebly omdat vroue dit óók oorgedra en geleef het. Só het die Gelofte volkserfenis geword – een wat deur gesin en gemeenskap oor generasies heen bewaar en gekoester is.
Wanneer ek die Gelofte vanjaar herdenk, doen ek dit met erkenning aan die diepgewortelde, veelkantige erfenis: dat die betekenis daarvan nie net in die heldedade van mans lê nie, maar ook in die stil, standvastige toewyding van die vroue wat die geloofs- en kulturele raamwerk van die Afrikaner versterk het.
Ons is die erfgename van hul moed, vasberadenheid en geloof. Wanneer ons die Gelofte aan ons kinders – seuns én dogters – oordra, doen ons dit ook in die gees van hierdie vroue. Só word die belofte hernu: “En dat ons aan ons kinders sal sê, dat hulle met ons daarin moet deel, tot nagedagtenis ook vir die aankomende geslagte.”
· Marike Kilian het ’n honneursgraad in korporatiewe kommunikasie en werk as kommunikasie- en bemarkingsbeampte by die Voortrekkermonument.



