Deur Charles Rademeyer

Daar is oomblikke in elke volk se geskiedenis wat deur dekades en eeue ankerplekke word en bly. Nie om jou te ketting of terug te hou nie, maar te wortel aan jou komvandaan. Jou te herinner waarom wegdryf nie ’n opsie is nie. Die Gelofte is só ’n anker vir my. ’n Vasmeerplek dieper as ’n tydvak in die geskiedenis.

Die Gelofte is ’n lewende herinnering aan ’n geloofsdaad, ’n sielsgebed, wat die Afrikaner se identiteit gesmee het en steeds iets vir jongmense soos ek beteken. Dit leef in elke jong Afrikaner wat vandag vra: “Wie is ek?” en “Waar hoort ek?” ’n Klippie op die water wat vir 187 jaar aanhou kring, kring.

Belofte van geloof en moed

Toe Andries Pretorius en sy mense in Desember 1838 langs die Ncome-rivier gestaan het, was hulle nie glorieryke helde nie; hulle was mense in vrees. Onseker, moeg. Hulle het egter iets gedoen wat min mense vandag verstaan: Hulle het hul toekoms in God se hande gesit en beloof om Sy Naam te eer as Hy hulle red. Hulle het geglo. Dit was nie ’n politieke besluit of belofte nie, dit was ’n geloofsprong.

Hulle het nie net vir oorwinning gebid nie, hulle het ’n belofte gemaak om voortaan anders te leef: in gehoorsaamheid, met dankbaarheid, diensbaar. Die Gelofte was die begin van ’n identiteit gebou op geloof, op gemeenskap en bowenal, op roeping.

Vandag, byna twee eeue later, vra ek myself af: Leef ons steeds so? Of het ons geloof ’n ritueel geword, ’n nalatenskap op vergeelde papier eerder as ’n brandende hartsvuur?

Afrikanerwees in die 21ste eeu

Om ’n jong Afrikaner in 2025 te wees, is nie maklik nie. Jy leef in ’n wêreld wat vir jou vertel dat identiteit vloeibaar is, dat geskiedenis ongemaklik is, dat jy moet kies tussen trots en aanvaarding. En tog, diep binne my, weet ek en baie jongmense, dat daar iets is wat uitroep. Nie ’n oproep tot nostalgie nie, maar tot betekenis. Nie tot oorheersing nie, maar tot diensbaarheid. Nie tot skeiding nie, maar tot standvastigheid.

Die Gelofte herinner my daaraan dat ons geskiedenis nie net oor oorlewing gegaan het nie, maar oor betekenis. Dat om ’n Afrikaner te wees, is om geroep te wees om te bou, nie net vir onsself nie, maar ook vir ander.

Ons voorouers het getrek vir vryheid van geloof en selfbeskikking. Vandag trek ons op ander maniere: weg van leegheid, van betekenisloosheid, van die idee dat identiteit iets is om oor skaam te wees. Ons sóék betekenis, rigting. Wortels.

Nuwe trek met oortuiging

Vandag trek ons nie meer oor berge en deur dale met waens nie. Ons trek deur ander landskappe met eiesoortige uitdagings: emigrasie, waar baie jongmense voel daar is geen toekoms in Suid-Afrika nie; taalvervreemding, waar Afrikaans in skole, universiteite en werkplekke al meer tweede viool speel; geloofsonsekerheid, waar baie nie meer weet waaraan om vas te hou nie; en identiteitsverwarring, waar “Afrikaner” vir sommige ’n ongemaklike woord geword het.

Tog sien ek iets nuuts gebeur: jongmense wat kies om nie skaam te wees nie. Wat begin om hul taal, hul geloof en hul erfenis terug te neem. Nie met hardkoppigheid nie, maar met trots en oortuiging. Ek hoor dit in musiek, sien dit in boerdery, in kuns, in entrepreneurskap, in geloofsgemeenskappe wat weer tot lewe kom. Jongmense wat onbeskaamd sê: “Ek weet waar ek vandaan kom, en ek gaan nét hier aan die suidpunt van Afrika ’n toekoms bou met wat ek het.”

Die Gelofte sê vir my: “Onthou jy is deel van iets groter as jouself.” Dit vra om nie net te onthou nie, maar om te leef op ’n manier wat eer aan God bring, maar ook aan my taal, aan my mense, aan my land.

Bouers, nie brekers

Vir baie jongmense voel die wêreld soos ’n oop veld sonder rigtingwysers. Alles is moontlik, maar min is seker. En dit is presies waar die Gelofte weer sin maak én bring. Dit herinner ons daaraan dat identiteit los van populêre menings en politiek staan en in oortuiging gegrondves is. Dat erfenis nie ’n las is nie, maar ’n grondslag. Die Gelofte leer ons voorts dat geloof en dade hand aan hand loop. Om te bou, is om te glo. Om te onthou, is om hoop te hê.

As jong geslag het ons ’n keuse: gaan ons kla oor wat verlore gegaan het, of gaan ons bou met wat oorbly? Ons kan kies om die Gelofte net as geskiedenis te sien, of ons kan dit as ’n beginsel uitleef: om te glo, te werk, te bou met eerlikheid en hoop.

Vir my beteken die Gelofte vandag om:

  • met integriteit te leef, selfs wanneer niemand kyk nie;
  • my taal met trots te praat, sonder skaamte of oordeel;
  • my geloof nie as ’n versiering te sien nie, maar as die vertrekpunt van alles;
  • my gemeenskap te dien, eerder as om te kritiseer; en
  • my identiteit te bou op onwankelbare waardes – eerlikheid, geloof, moed, liefde.

Só word ons weer ’n volk van hoop.

Ons nuwe belofte

Die Gelofte was ons eerste groot belofte aan God. Maar ek glo elke nuwe geslag moet weer sy eie belofte maak. Myne lui soos volg: Dat ek nie sal vergeet waar ek vandaan kom nie, maar ook nie sal vrees waarheen ek moet gaan nie. Dat ek my taal sal gebruik om te bou, nie te breek nie. Dat ek sal glo, selfs wanneer dit nie maklik is nie. Dat ek met oortuiging sal leef, want ek weet wie ek is.

Die herdenking van die Gelofte gaan nie daaroor om terug te kyk of net op 16 Desember vir ’n vlietende oomblik by die sonkol op die senotaaf in die Voortrekkermonument stil te staan nie. Dit gaan daaroor om in elke dag vorentoe te kyk, met geloof. Om onbeskaamd te verklaar: Ons sal bou. Ons sal glo. Ons sal hoop.

· Charles Rademeyer is ’n kultuurkoördineerder van die FAK.