Deur Etienne Hansen
Toe die eerste ligstrale deur die misbanke op 16 Desember 1838 gebreek het, het 464 Voortrekkermans voor die volle mag van die gevreesde Zoeloeleër te staan gekom. Duisende Zoeloekrygers het gereed gemaak om die laertjie van 64 waens uit te wis.
Daar is geen duidelikheid onder historici van hoeveel Zoeloekrygers daar werklik was nie. Volgens oorlewering word dit op 16 000 geskat. ’n Gevange Zoeloekryger het getuig dat daar 36 regimente was. Elke regiment kon tot 1 000 soldate bevat. Teoreties gesproke kon daar dus tot 30 000 Zoeloe’s gewees het. Dit ondersteun MW Pretorius se skatting van 30 000. Ondenkbaar – 464 teenoor 30 000.
In die geestesoog van hierdie mans het die grubeelde van die Bloukransmoorde, die mislukte Italeni-straftog en die angsvolle aanvalle by Gatslaer, wat drie volle dae geduur het, geflits. Tog het die Voortrekkers geloofsekerheid gehad dat hulle ’n oorwinning sou behaal.
Toe die Wenkommando onder leiding van kommandant Andries Pretorius in die begin van Desember 1838 Sooilaer verlaat het, het hulle gou besef dat ’n oorwinning menslik gesproke onmoontlik was en dat dit slegs moontlik sou wees met God se hulp. Die gedagte van ’n gelofte het by die leiers ontstaan, heel moontlik Pretorius self. In die geskiedenisboeke is daar drie verskillende weergawes van die Gelofte – een van Jan Bantjes, een van Andries Pretorius en een van Sarel Cilliers.
Bantjes se weergawe
Jan Bantjes, die sekretaris van Pretorius, het op 9 Desember in sy joernaal, wat op 14 Julie 1839 in De Zuid-Afrikaan verskyn het, die volgende geskryf: “Die Sondagoggend, voordat die godsdiens sou begin, het die hoofkommandant die godsdiensleiers bymekaar geroep. Toe het hy hulle versoek om met die ‘gemeente’ te praat dat hulle ywerig in gees en waarheid tot God moet bid vir Sy hulp en bystand, in die stryd teen die vyand; dat hulle aan die Almagtige ’n gelofte wil doen – om as die Here ons die oorwinning mag gee, ’n Huis tot eer van Sy Groot Naam te stig waar dit Hom sal behaag – en dat hulle ook die hulp en bystand van God moet afsmeek om hierdie gelofte te kan uitvoer. Ook dat hulle die dag van die oorwinning in ’n boek sal opteken, en dit bekend sal maak ook tot aan ons laaste nageslagte, sodat die Eer van God gehuldig sal word.”
Sarel Cilliers het die godsdiens gelei uit Rigters 6:1-24. Die verhaal van Gideon wat deur God gestuur is om Israel van die Midianiete te verlos. Hy het afgesluit met die roerende berymde Psalm 38. ’n Skuldbelydenis, maar ook ’n verklaring van geloofsafhanklikheid. Onder Cilliers se leiding is die Gelofte elke aand tot die aand van 15 Desember herhaal.
Pretorius se weergawe
Andries Pretorius se weergawe van die Gelofte, wat hy ses dae ná die Slag van Bloedrivier opgeteken het, het op 16 Februarie 1839 in De Zuid-Afrikaan verskyn. Dit lui soos volg: “Verder wench ik UE ook ter kennisse te brengen, dat wy alhier onder elkanderen besloten hebben, om den dag onzer overwinning, zynde Zondag den 16 dezer maand December, onder ons ganche geslacht te doen bekend worden, en dat wy het aan den Heer willen toewyden, en vieren met Dankzeggingen, zoo als wy voor dat wy tegen den viand streden, in het openbaar gebed beloofd hebbe, zoo ook, dat zoo wy de onverwinning [overwinning] verkrygen mogen, wy den Heere tot zyns naams gedachtenis, een huis stichten zullen, alwaar Hy onz zulks aanwyzen zal, welke geloften wy nu ook hopen te betalen, met de hulp des Heeren, nu hy ons gezegend, en onze gebeden verhoord heft.”
Dit is opvallend dat Pretorius se weergawe net soos Bantjes geen melding van ’n Sabbatsklousule maak nie.
Cilliers se weergawe
Sarel Cilliers het sy weergawe van die Gelofte in 1871, byna 32 jaar ná die gebeure by Bloedrivier, op sy sterfbed gedikteer: “Mijne Broeders en medelandgenoten, hier staan wij thans, op eene Ogenblik voor een Heilige God, van Hemel en aarde, om een belofte aan hem te beloven, als hij met zijne beskerming, met ons zal wezen, en onze vijand in onze handen zal geven dat wij hem oorwinnen, dat wij die dag, en de datum, elk jaar al seen verjaarsdag, en een dankdag, zoo als een Sabbath, en zijne eere, dienen zal, doorbrengen en dat wij het ook aan onzen kinderen zal zeggen, dat zij met ons er in moeten deelen, tot gedachtenis, ook voor ons opkomende geslagten, en als iemand is die er onder bezwaard bevind, dat die dan van deze plaats, weg moeten gaan, want de eere van zijn naam, daardoor zal verheerlijk worden, dat de roem en eer van overwinning aan hem zal worden gegeven.”
GBA Gerdener het swaar op Cilliers se weergawe gesteun met die opstel van die seremoniële weergawe van die Gelofte in 1919. Dit is in 1962 in opdrag van die FAK in Afrikaans deur W.E.G. Louw vertaal.
Erkenning van geloofsafhanklikheid
Die bedoeling van die Sabbatsklousule was nie om ’n mensgemaakte Sondag te skep nie, maar om die dag met gewydheid as ’n dankdag deur te bring. Terugskouend oor ons hele geskiedenis kan ons nie anders as om met dankbaarheid teenoor die Here gevul te word nie.
Die Bloedrivier-Gelofte moet gesien word as ’n erkenning van geloofsafhanklikheid, soos die Van Riebeeck-gelofte van 1654 en die Paardekraal-gelofte van 1880.
Die woordkeuse van “’n Huis tot Sy eer sal stig” dui op ’n dieper betekenis as bloot die bou van die Geloftekerk in Pietermaritzburg. Elke kerk en skool wat gebou word, is die vervulling van die Gelofte. In die gereformeerde wêreldbeskouing van soewereiniteit in eie kringe word elke aspek van die Huis (die volk) se bestaan aan die Here gewy. As Afrikaners wy ons ons ganse bestaan met dankbaarheid aan die Here.
Die ongelooflike voorreg om deel van ’n volk te wees wat deur drie geloftes aan God gebind is en ook in ons daaglikse handel die Here eer, bring ’n groot verantwoordelikheid. Daardie verantwoordelikheid vind ons in Matthéüs 28:16 “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”
- Etienne Hansen (20) studeer BSocSci by die AP Akademie en is ’n geskiedenisnavorser by die FAK en Erfenisstigting.
