Die Voortrekkermonument is gereed om duisende besoekers te verwelkom vir die jaarlikse Gelofteweekvieringe wat op 9 Desember amptelik afskop.
Die Gelofte, wat aanvanklik tussen 9 en 15 Desember 1838 deur Sarel Cilliers en die Voortrekkermanskappe afgelê is, bly ’n sleuteloomblik in die Afrikanergeskiedenis. Die Monument bied vanjaar oudergewoonte ’n gestruktureerde program aan wat die historiese betekenis en geloofsdiepte van die Gelofte beklemtoon.
Aflê van die Gelofte en kanonskoot
Besoekers kan van 9 tot 15 Desember uitsien na ’n aangrypende atmosfeer in die Lewende Laer, waar die stilte van die aand en die erns van Gelofte-aflegging die hart van die Afrikanererfenis opnuut warm laat klop. Hierdie geleentheid kos slegs R20 per volwassene. Tydens dié geleentheid word aandgodsdiens gehou, die Gelofte afgelê, lanterns aangesteek en afgesluit met ’n kanonskoot. Klik hier om jou plek te bespreek: https://vtm.org.za/gelofteweek-2025/
16 Desember: Geloftedag
Registrasie vir Geloftedag is gratis, maar is noodsaaklik om verkeersvloei, parkering en algemene logistiek op die dag doeltreffend te bestuur. Hekke open reeds om 06:00 die oggend en dr. Dewyk Ungerer doen die woordverkondiging. Registreer hier gratis vir Geloftedag: https://vtm.org.za/gelofteweek-2025/
Beleef besonderse aandbesoek
Die Voortrekkermonument sal ook vanaf 9 tot 21 Desember daagliks oop wees tot 21:00. ’n Standaard dagkaartjie kos R240 per volwassene, R115 per pensioenaris, en kinders besoek die Monument gratis die hele Desember. Tussen 17:00 en 21:00 (9 tot 21 Desember) betaal volwassenes slegs R100 per persoon.
Jong besoekers kan die terrein verken, soos die olifant in die Trekroetetuin, die krokodil in die Vrijheidsreis en natuurlik die plaasdiere by die Pionierswerf van nader leer ken. Verdere gesinsaktiwiteite sluit in perderitte; stap, draf of fietsryroetes in die pragtige natuur; en smulkos by die Skool op Wiele-restaurant of Uitspan Deli.
Die Monument sluit om 12:00 op 24 Desember en is slegs gesluit op 25 Desember. Alle ander dae staan die Monument se deure oop om gaste te verwelkom.
Volgens Dawid Brand, bedryfshoof: media, bemarking en toerisme, is die Kultuurtuiste gereed én baie opgewonde om duisende besoekers te verwelkom vir ’n maand van geloof, gesinsaktiwiteite en geskiedenis. “Ons nooi almal uit om saam met ons die diepte en betekenis van die Gelofte te herdenk, en die warm gasvryheid van die Kultuurtuiste te ervaar.”
Kaartjies en registrasie vir alle Desember-aktiwiteite is beskikbaar by www.vtm.org.za
