Deur Maryna Eksteen

 

Dit is middel Desember. Die reuk van braaivleis en somer hang in die lug. Die vakansiegees is tasbaar. Hierdie week is vir my, as ma van ’n klein seuntjie, net so belangrik as die Kersfeesvieringe wat voorlê. Oor ’n paar dae, op 16 Desember, is dit Geloftedag.

 

Ek hou my seuntjie vas en verkyk my aan sy onskuldige gesiggie. Hy het die mooiste blou oë en blonde hare. Hy speel met my hare terwyl hy op my skoot sit, en wanneer hy uit sy magie uit lag, kan ek nie anders as om te wens dat tyd moet stilstaan nie. Alles in hierdie oomblik voel so reg.

 

Dan dink ek aan die ma’s in 1838. Ma’s wat op hul knieë gesit het om by ’n flikkerende vetkerslig hul kind(ers) in die donker te bad. Ma’s wat ver moes loop om water aan te dra. Ma’s wat met dieselfde liefde na haar kind(ers) gekyk het waarmee ek na my kind kyk. Ma’s met ander stories.

 

Ek dink aan die angs, maar uiteindelik ook die vreugde, wat in daardie ma’s se harte was, en ek voel ’n diep roeping om die Gelofte wat 187 jaar gelede vir die eerste keer afgelê is, ook aan my kind oor te dra. Ek kan my beswaarlik die verlammende angs van ’n Voortrekkermoeder, daardie week voor die Slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838, indink.

 

Slegs ’n paar honderd man teen ’n oormag van duisende Zoeloekrygers naby die Ncome-rivier. Die manskappe het geweet dat net ’n wonderwerk hulle kon red. Dit was in hierdie desperate omstandighede dat hoofkommandant Andries Pretorius die volk bymekaargeroep het. ’n Gideonsbende wat God in afhanklikheid aangeroep het. Gesmeek het.

 

Van 9 Desember af, en elke aand totdat die slag op 16 Desember plaasgevind het, het hulle God in gebed genader met ’n plegtige Gelofte: indien God hulle die oorwinning sou gee, sou hulle die dag jaarliks as ’n dankdag deurbring, ’n huis tot Sy eer oprig en dit aan hul nageslag oordra.

 

Die mans wat daardie Gelofte afgelê het, moes vreesbevange gewees het, maar hul geloof het hulle geanker. En die moeders? Ek dink as ek deel van daardie narratief was, sou ek in sak en as voor God gekniel het. Ek is seker hulle het gesmeek vir God se beskerming oor hul mans en seuns, met die wete dat hul geliefdes dit dalk nie gaan oorleef nie. Ek wonder wat deur daardie ma’s se gedagtes gegaan het? Het hulle teruggedink aan die seuntjie wat hulle in die kerslig gebad het? Het hulle vasgehou aan goeie herinneringe of net bloed gesien as hulle hul oë gesluit het om te bid?

 

Hierdie week, voordat ons op 16 Desember die Gelofte en God se genadehand oor ons gedenk, berei ek my hart voor vir dié grootse gebeurtenis. Ek is ’n moderne ma. My grootste vrese is vir die wêreld wat my seun eendag moet trotseer – dalk boelies by die skool, ekonomiese en politieke druk, ’n hemelhoë jeugwerkloosheidskoers. En dan dink ek weer aan die Gelofte. My seuntjie is dalk nog te klein om die woorde te verstaan, maar hy is nie te klein vir die gees van die Gelofte nie.

 

My dankbaarheid is oorweldigend omdat my seun die Gelofte sal gedenk eerder as om self daarin te veg. Dit is ’n geskenk van God wat ek nooit as vanselfsprekend sal aanvaar nie. Die Gelofte plaas ’n plig op my as moderne ma om te verseker dat hy die ware betekenis verstaan: Dat dit nie net historiese feite van gister is nie, maar ’n belydenis van afhanklikheid van God vir vandag én môre.

 

My seuntjie op my skoot het ’n dankbaarheid in my losgewortel. Dankbaarheid vir God se onwankelbare genade regdeur die eeue. My gebed is dat my seun in sy eie “laer” eendag sal onthou dat oorwinning slegs in totale afhanklikheid van en eer aan God lê.

 

  • Maryna Eksteen is ’n senior inhoudskepper by die Voortrekkermonument.