Op Dinsdag, 16 Desember het nagenoeg 40 000 mense Geloftedag by die Voortrekkermonument in Pretoria herdenk. Dit was ongetwyfeld een van die mees betekenisvolle en omvangryke herdenkings in etlike dekades.

Vir die Afrikaanse kultuurgemeenskap is 16 Desember nie net ’n vakansiedag nie, maar ’n diep gewyde dag wat 187 jaar ná die Slag van Bloedrivier steeds getrou jaarliks gedenk word – nie net by die Monument nie, maar landwyd en selfs in die buiteland. Bykans 230 Geloftefeeste het vanjaar landwyd plaasgevind en in die buiteland is dit op al sewe vastelande in 25 lande gevier, selfs in Antarktika.

Die 2025-viering by die Monument is gekenmerk deur ’n massa-samekoms van geloof, geskiedenis en gemeenskap.

Geloftedag is ’n jaarlikse herdenking van die Gelofte wat die Voortrekkers in 1838 voor die Slag van Bloedrivier afgelê het, en dra ’n diep geestelike en historiese betekenis vir baie Afrikaners.

Vanjaar se gedenkdag was anders – nie net in skaal nie, maar in die intensiteit van die gemeenskaplike deelname en die gevoel van gemeenskaplike geskiedenisherinnering wat dit vir elke besoeker geskep het.

“Die Afrikaner was die afgelope jaar opnuut in die internasionale kollig, wat beslis plaaslik uitgekring het in ’n hernude oplewing van trots, kulturele identiteitsbesef en ’n gemeenskapsgevoel van behoort,” sê Dawid Brand, bedryfshoof: media, bemarking en toerisme van die Kultuurtuiste.

“Dit was ’n dag van diepe dankbaarheid, samekoms en tradisie, en die Monument was oudergewoonte die hartklop van hierdie dag van dankbaarheid,” sê hy.

Geestelike en kultuurryke begin

Die dag het om 06:00 in die koel oggendure afgeskop met families en vriende van heinde en verre uit verskeie provinsies, asook internasionale besoekers, wat met stille verwagting begin instroom het. Die heerlike sonskynweer het ook bygedra tot die uitnemende sukses van die dag.

Ná die samesang in ’n stampvol amfiteater het dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Kultuurtuiste, die duisende besoekers verwelkom. Die atmosfeer het ’n ekstra gevoel van ontsag gekry toe ’n indrukwekkende kanonskoot deur ’n splinternuwe replika van kanon Grietjie afgevuur is. Die oorspronklike kanon Grietjie, wat by Bloedrivier gebulder het, staan vandag in die Senotaafsaal van die Monument.

Een van die hoogtepunte van die oggend was die lees van die Gelofte deur Raynard Bosman, ’n graad 11-leerling aan die Hoërskool Pretoria-Noord en die wenner van die FAK se Geloftedagkompetisie. Sy voordrag het nie net die bekende woorde van die Gelofte opgeroep nie, maar ook wat dit vir toekomstige geslagte beteken.

Dr. Dewyk Ungerer se woordverkondiging het nie net op die historiese gebeurtenisse van 1838 gefokus nie, maar die dag se sentrale tema – geloof, genade en dankbaarheid – toegelig. Ungerer se boodskap vol toekomshoop het die gehoor diep geraak.

Ter afsluiting het Sallas de Jager, Logan Pietersen en Franco Jamneck “Die Geloftelied” uit die pen van Johan Vorster en Appel gesing, ’n roerende lied wat eie aan Geloftedag by die Voortrekkermonument geword het.

Seën en son versmelt

Om 10:20 is die assegaaihekke van die Voortrekkermonument geopen om die duisende besoekers toegang tot die Monument te gee.

Presies om 12:00 het die wonder van die wetenskap en die simboliek van God se seën versmelt toe die son die woorde “Ons vir jou Suid-Afrika” op die senotaaf verlig het. Hierdie oomblik word as ’n geestelike hoogtepunt van Geloftedag gesien en het nie teleurgestel nie – dit het ’n gevoel van stilte en heilige eerbied by oud en jonk geskep.

Geloftedag by die Voortrekkermonument het na beraming die grootste bywoning in etlike dekades gehad. Afrikaners van alle ouderdomme en uit alle agtergronde het saamgekom – sommige vir die eerste keer, ander as geslagtelange deel van die tradisie – om hierdie spesiale dag te beleef. Vir baie was dit nie net ’n historiese herdenking nie, maar ’n geestelike en kulturele saamkuier.

“Geloftedag se simboliek en diepgang word nie in getalle gemeet nie, maar in die wete dat God gister en vandag getrou is, en dat ons deur Sy genade alleen ’n hoopvolle toekoms net hier kan bou,” sê Brand.