Meer as 100 skoolhoofde, klusterleiers en lede van die uitvoerende bestuur van die departement van onderwys se Tshwane-Suid-distrik het onlangs by die Voortrekkermonument byeengekom om nie net strategies oor die jaar te besin nie, maar die geskiedenis, gasvryheid en gemeenskapsgevoel van die Kultuurtuiste eerstehands te beleef.
Die dag het strategiese beplanning met erfenisverryking gekombineer, met die klem op die gehalte van onderwys én die belangrikheid van die Suid-Afrikaanse geskiedenis in die skoolkurrikulum. Ná boeretroos en beskuit in die Voortrekkersaal het die gaste ’n interaktiewe opvoedkundige toer van die Pioniersentrum en die Voortrekkermonument beleef. Dié sentrum is spesiaal ontwerp om leerders deur middel van ’n praktiese en ervaringsgebaseerde benadering wat met die kurrikulum belyn is, aan geskiedenis bloot te stel – ook leerders met bykomende behoeftes.
Andries Nkadimeng, Tshwane-Suid se distriksdirekteur, kon nie uitgepraat raak oor die Monument en die belangrikheid van geskiedenisoordrag en -belewenis nie. “Ons was verlede jaar hier vir ’n spanbougeleentheid saam met die hoofdirekteur, en die gasvryheid bly ’n mens by.
“Ons skoolhoofde moet sorg dat die geskiedenis behoorlik aan ons kinders oorgedra word. Deur hulle hierheen te bring, verseker ons dat hulle die belangrikheid van erfenisblootstelling verstaan. Die hoofde sal beslis hul leerders na die Monument bring, want dit is van onskatbare waarde,” sê hy.
Volgens Nkadimeng, wat die voorreg gehad het om kanon Grietjie af te vuur, was die Monument die perfekte ruimte vir die departement se strategiese beplanning. “Die omgewing is ideaal om in die natuur, omring deur geskiedenis, met ’n helder gemoed te kan beplan. Ons kon besin, ons planne versterk en fokus op ons kernwerk: om gehalteonderwys van graad R tot matriek te lewer.”
In 2025 het sowat 14 000 leerders in Tshwane-Suid die matriekeindeksamen afgelê, waarvan 12 000 geslaag het. “Ons mikpunt is ’n 100%-slaagsyfer. Ons wil ons onderwys verbeter – dit is hoekom ons hierheen gekom het, om die beste ruimte vir strategiese denke en samewerking te skep.”
Ná die kanonseremonie het die gaste middagete in die Kruger-galery geniet voordat die formele beplanningsessies voortgegaan het. Die hoofde het deelgeneem aan strategiese sessies wat gefokus het op kurrikulumlewering, leerderondersteuning, leierskapsontwikkeling en die versterking van skoolgemeenskappe.
Volgens dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument, was dit ’n groot voorreg om dié uitgelese groep onderwysleiers te ontvang. “Die Kultuurtuiste se skoleaanbod is ontwerp om geskiedenis vir jongmense lewend te maak, oor kultuurgrense heen. “Wanneer skoolhoofde die Pioniersentrum, Monument en terrein eerstehands beleef, sien hulle watter reuse-impak hierdie leerervarings op hul leerders kan hê.
“Ons is trots om skole van reg oor die land hier te verwelkom en het verlede jaar meer as 7 000 leerders by die Monument verwelkom,” sê sy. “Dit is vir leerders lekker om hier te kuier, maar hulle kry bowenal konteks, ’n dieper insig en trots in die land se diverse geskiedenis. Hier kom ’n kleurvolle tapisserie van ryk erfenisverhale soos strome byeen wat nie in isolasie vloei nie, maar nou verweef is,” sê Langner.
Die dag is afgesluit met ’n gevoel van doelgerigtheid en samehorigheid, met Tshwane-Suid se hoofde wat na hul skole terugkeer met nuwe energie, duidelike strategieë, ’n gedeelde toewyding tot die verbetering van die distrik se akademiese uitsette, én ’n dieper verstaan van die geskiedenisverhale wat ons saambind.




