’n Museum vir die Voortrekkermonument

Die taak van ’n museum kan kortliks opgesom word as om voorwerpe van besondere kulturele, wetenskaplike of historiese waarde te versamel, te versorg en te vertolk.

Tydens die Eeufeesjaar in 1938 is oudhede uit die Groot Trek versamel met die bedoeling om dit uiteindelik in die Voortrekkermonument te bewaar. Tot tyd en wyl die Voortrekkermonument voltooi is, is die historiese voorwerpe na die ATKV se museum in Hartenbos vir bewaring gestuur.

Tydens die inwyding van die Voortrekkermonument in 1949 is ’n tydelike uitstalling van voorwerpe by die Voortrekkermonument gehou. Kort na die inwyding is mevrou Kotie Roodt-Coetzee as die eerste geskiedkundigebeampte aangestel en op 5 Julie 1957 is ’n museum in die kelderverdieping aan die suidekant van die monument ingerig.

In die sestigerjare het die Transvaalse Provinsiale Administrasie besluit om ’n nuwe museum-restaurant-kompleks ten noorde van die monument te ontwikkel wat in November 1966 bekendgestel is.

Vanaf 1966 tot 2001 was die kelderverdieping in die Voortrekkermonument stoorruimtes en daar was ’n raadsaal aan die oostekant. Met die draai van die eeu is die Voortrekkermuseum in kantore omskep en die uitstallings terug na die Senotaafsaal en kelderverdieping geskuif.

Die oorhoofse tema van die uitstallings in die twee museums was vir meer as ses dekades Voortrekkerlewe. Daar is gefokus op die pioniershuis, volkskuns en gebruiksartikels uit die Groot Trek wat in nege uitstalkaste vertoon is.

Op 14 Junie 2022, 84 jaar na die hoeksteenlegging, 73 jaar na die inwyding en 65 jaar na die eerste museum in die kelderverdieping geopen is, word ʼn nuwe vergrote museum geopen met ʼn splinternuwe tema, Vrijheidsreis.

Vrijheidsreis

Met die konseptualisering van die nuwe museumuitstalling was daar drie oorhoofse uitdagings.

Die eerste uitdaging was om op die oorspronklike museumtema van Voortrekkerlewe voort te bou, maar andersyds om ook aansluiting te vind by die ideale van die Groot Trek. Die fokus en konteks van die Voortrekkermonument het oor dekades gewissel, maar die goue draad en koördinerende beginsel wat vanaf die Groot Trek, tot die bou van die Voortrekkermonument, tot vandag deurloop is vryheid. Piet Retief se manifes bevestig dit. Moerdijk het met ontwerp en simboliek van die Monument die grootsheid van die Voortrekkers se dade beklemtoon. Met die senotaaf as die middelpunt wou hy die nageslag herhinner aan die offers wat gebring is om die ideaal van vryheid te verwesenlik. Op die friespanele van die Heldesaal word ʼn heldereis uitgebeeld, maar vir die Voortrekkers was die Groot Trek ʼn toekomsreis met die doel om vry te wees. Hulle Vrijheidsreis was ʼn dinamiese beweging vorentoe.

Die tweede uitdaging is gebrekkige historiese kennis oor die Groot Trek. Die trek wat Suid-Afrika ingrypend verander het, is gereduseer tot ʼn paar paragrawe in geskiedenisboeke. Geskiedenis is nie net datums en feite nie, dit moet ʼn ervaring wees. Die afgelope maande is ʼn ervaringsgerigte kultuuraanbod ontwikkel waar die eens statiese Voortrekkerlewe prakties in die Lewende laer en op die Pionierswerf ervaar word. Van trekkerkoffie, roosterkoeke tot kleiosse maak en pioniershuis bou. Die uitdaging was om in Vrijheidsreis ook ʼn ervaring te met beeld, kleur en klank te skep wat geskiedenis laat leef.

Die derde uitdaging was om die die uniekheid van elke verdieping horisontaal te beklemtoon, maar die Groot Trek-verhaal ook vertikaal te bevestig.

Op die eerste verdieping is die indrukwekkende Heldesaal waar 27 Groot Trek-momente uit Querchetta-marmer gebeitel is.

Op die tweede verdieping is die Senotaafsaal. Hier is die fokus hoofsaaklik op volkskuns en persoonlike besittings van Voortrekkers, asook kosbare oorspronklike kunswerke van WH Coetzer wat vertoon word. Die horisontale verband tussen die Groot Moord by Bloukrans, Bloedrivier en die Gelofte word beklemtoon.

  • Om die senotaaf is agt lanterns van Bloedrivier-walaer aangebring.
  • Die Johanna van der Merwe-ossewa, vernoem na die dogter wat Bloukrans oorleef het, en die Laas-wa word vertoon. Die Laas-wa is die tweede oudste ossewa in die land en is deur die Voortrekkerleier Gert Maritz gebou. Dit is ook die enigste wa wat by die Slag van Bloedrivier was, wat behoue gebly het.
  • ’n Nuwe toevoeging in die Senotaafsaal is ’n loodglaspaneel met die Gelofte op. Op die loodglaspaneel word die Geloftekerk vertoon met die temas van die Here se sorg en trou en gelowiges wat in die Woord geanker is. Loodglas is kenmerkend van ons Westerse kerktradisie. Dit is die eerste keer waar die Gelofte in die Senotaafsaal vertoon word vir geslagte wat kom.
  • As deel van die ervaring in die senotaafsaal word geliefde Psalms en Gesange van die Voortrekkers deurlopend Dit is liedere wat die Voortrekkers tydens belangrike gebeure of huisgodsdiens gesing het. Die Psalms en Gesange is in die Nederlands van die Groot Trek-tydperk opgeneem en word op ’n huisorrel gespeel. Liedere wat onder andere gehoor word, is:

Gesang 20:9. “Nu treën wij bemoedigd voort” wat deur die Potgieter-trek gesing is toe hulle die Oranjerivier met vlotte oorgesteek en die eerste vryheidstree in die nuwe land gegee het.

Psalm 146, “Prys die Heer met blye galme”, wat hulle op die rand van die Drakensberg gesing het toe hulle Natal die eerste keer gesien het.

Psalm 130, “Uit dieptes van ellende”, wat die aand na die Groot Moord in Retief se laer met huisgodsdiens gesing is.

Psalm 38, die Geloftepsalm, wat elke aand met die aflê van die Gelofte gesing is.

“Aan U, o God, my dankgesange”, die aandgesang waarmee lang dae op die wapad afgesluit is.

Op die derde verdieping is die ou museum in drie gange omskep waarin die Vrijheidsreis vertolk word.

Die Vrijheidsreis begin in die vlagsaal waar ʼn stokou Natalia-vlag deur Nico Moolman geskenk is. Elke republikeinse vlag was ’n uitroepteken teen oorheersing.

Die store is omskep in die Gerhard Moerdijk en WH Coetzer-sale waar die bou, ontwikkeling van die friespanele en inwyding van die Voortrekkermonument uitgebeeld word.

Berge op die trekpad wat uitkyk- en versamelpunte, maar ook bakens op die Vrijheidsreis. Die bekende landskapskilder, Gerrit Pitout het op ses panele berge op die trekpad in sy kenmerkende Pierneef-styl geskilder. By elke berg is ’n eietydse woordveld aangebring om die bakens van die grootste historiese verhaal makliker te verstaan, te verduidelik en te vertel.

Daar is talle voorbeelde van deurskouende verbande waarmee die Vrijheidsreis vertikaalin die monument bevestig word.

  • In die friespaneel word Piet Retief se tafel uitgebeeld. Die friespaneel beklemtoon die oomblik waar Koning Dingane die koopkontrak teken. In die nuwe uitstalling is Retief se oorspronklike tafel waarop diee koopkontrak gesluit is.
  • Retief se bladsak word op die friespaneel uitgebeeld. In die bladsak was Retief se gebedeboek saam met die traktaat. Die gebedeboek, deurweek met sy bloed, word in die nuwe uitstalling gesien.
  • Op die friespaneel staan Sarel Cilliers op die kanon Grietjie, terwyl hy die Gelofte aflê. Grietjie het ’n staanplek in die Senotaafsaal gekry. In die nuwe uitstalling word die Gelofte in oorspronklike Nederlands gelees en die Geloftepsalm gesing.
  • Op die friespaneel word die Geloftekerk gebou. In die Senotaafsaal is die Geloftekerk in loodglas uitgebeeld. In die nuwe uitstalling is ’n replika van die voltooide Geloftekerk.

Verweefdheid van kuns

Die grootsheid van die Voortrekkermonument lê in die verweefdheid van ’n veelvoud van kunsvorme. Dit was belangrik om nie net die ou kunswerke te beklemtoon nie, maar dit ook aan te vul met ‘n nuwe geslag Afrikaners se kunswerke.

  • Die detail van elke argitekstekening van Gerhard Moerdijk is ’n kunswerk in eie reg.
  • Die imposante klipwerk van marmer en graniet getuig van fyn boukuns. Cornelius Pretorius, meesterbouer van die firma WF du Plessis het elkeen van die ongeveer 60 000 granietblokke op mekaar geplaas. Aan die einde van 1945 is die laaste granietblok deur hom gelê. Vandag word die vakmanskap en boukuns van Danie en Raymond Dreyer voortgesit en instandgehou.
  • Die beeldhoukuns van Anton van Wouw, Laurika Postma, Hennie Potgieter en Peter Kirchhoff word gekombineer met die beeldhoukuns van Phil Minnaar en Danie de Jager, ons eietydse Afrikaanse beeldhouers.
  • In die senotaafsaal is fyn weefkuns van die tapisserieë, volkskuns van ouds en koekversierkuns.
  • Die skilderkuns van WH Coetzer en Pierneef word gekombineer met die kunswerke van Gerrit Pitout en Ferdi Pieterse se wildlewe.
  • In elk van die vier boogvensters is daar 1072 stukkies Belgiese loodglas. Dit word gekomplimenteer deur Chris Boshoff se eietydse loodglaskuns.
  • In die Senotaafsaal en Vrijheidsreis is die grafiese kuns van Belinda Naudé wat elke bord ontwerp het.
  • Johan van Staden het met sy fotografiekuns meer as 2000 voorwerpe binne en buite die Voortrekkermonument gefotografeer.
  • Die klankkuns van Flip Loots, Danie Nolte Produksies en Francois Lessing van die Gelofte Musiekblyspel skep in die Senotaafsaal en Vrijheidsreis atmosfeer.
  • Die beligting van Afrison is ʼn kunswerk in eie reg.
  • Ook NP van Wyk Louw se skryfkuns het vir die eerste keer ’n plek in die Voortrekkermonument gevind. Vir die hoeksteenlegging in 1938 het hy Die Dieper Reg geskryf wat handel oor Afrikaners wat in die beskuldigdebank van die geskiedenis beland het. Die Vrijheidsreis begin met die vraag van, O wye en droewe land, en word saamgevat met ʼn beslissing oor ʼn volk se reg tot voortbestaan.
  • In ’n Engelse omgewing hoop ons dat veeltaligheid ook ruimte vir Afrikaans sal skep. By Afrikaners se kultuurtuiste skep Afrikaans ’n ruimte vir ander tale, naamlik: Engels, Zoeloe, Sepedi, Frans, Duits, Nederlands en Mandaryns. Dit is ook die eerste keer dat die Gelofte in al die tale vertaal is. Die omvattende gids wat deur Chrisna Nel saamgestel is, is opsigself ’n monumentale kunswerk van woorde, klankgrepe, inligting en vertalings. Daar moet met groot waardering spesiale vermelding van Estelle Pretorius gemaak word. Sy is ʼn lopende ensiklopedie van die Voortrekkermonument se geskiedenis en altyd bereid om te help. Ons storie word in ons eie woorde aan besoekers verduidelik, in ’n taal waarin elkeen kan tuisvoel.

Is daar nog ’n plek waar soveel Afrikaner volkskuns saamgevat word?

Respek vir geskiedenis en kulture

Vir die eerste keer word die oorspronklike gipspaneel met die wrede Bloukrans-tonele in die nuwe WH Coetzer-saal uitgestal. Die baba wat teen ’n wawiel verpletter word, ’n kleuterlykie waarop getrap word en die verkragtingstoneel wat selfs vanaf die skets na die gipspaneel verander is. Op versoek van Generaal Smuts is die finale friespaneel versag. Die versagting van die paneel gaan nie oor die miskenning of verdraaiing van die geskiedenis nie. Die Bloukrans-friespaneel beeld steeds die tragedie van wrede en grumoorde en onmeetlike verlies en hartseer uit. Die verskil tussen die oorspronklike gipspaneel en die uiteindelike friespaneel het ’n belangrike boodskap vir vandag. Geskiedenis is nie ’n wapen om wraak, haat en bitterheid aan te wakker of om te verneder nie. Geskiedenis moet help om te verstaan, dit is ’n leerboek vir die toekoms en kan inspireer. Die diepte van geskiedenis word vanuit verskillende perspektiewe ontsluit en moet met respek behandel word.

ʼn Doelbewuste keuse is gemaak om erkenning te gee aan die hoë vlak van sofistikasie wat die krygsmag van koning Dingane gekenmerk het. Die Zoeloeleër was ʼn goed opgeleide, geordende en dapper miltêre krygsmag met bewese suksesvolle strategieë en oorlogstaktiek. Shaka, was bekend as Umhlovu, wat die Groot olifant beteken. Nadat Dingane vir Shaka vermoor het, het hy ʼn nuwe stat vir hom gebou en met ʼn fyn woordspeling Umgungundlovu genoem. Die beteken letterlik die olifant is omsirkel of gevange geneem. In die trekroete tuin is Shawu, die reuse olifantbeeld deur Danie de Jager wat naby die simboliese uitbeelding van Umgungundlovu opgerig is om die grootheid en millitêre mag van die Zoeloekoninkryk te bevestig. Frans Lion-Cachet skryf in sy boek, De Worstelstrijd der Transvalers in 1883 “dat Retief eerst te laat zou beseffen dat niemand zich ongewapend in een afgesloten ruimte met een wilden olifant behoort te begeven.” Dit word ook in Vrijheidsreis bevestig.

Een van die mooi verhale wat in die voorbereiding van die Vrijheidsreis ontvou het, was dié van Livingstone en sy span. Toe hulle besef hulle is besig om Umgungundlovu in die museum te bou, het Zoeloe-werkers, Zoeloe-krygers geword. Hulle het elke oggend Indaba gehou. Ons mag net deur Livingstone kommunikeer. Umgungundlovu se ingang moes oorgebou word. Die veghek by die Bloedrivier-toneel moes met rourieme gemaak word. Die 48 assegaaie is deur Zoeloes in Zoeloeland op Shaka se manier gemaak en geslyp. Hulle het die skilde en korrekte klere vir die koning en Impi’s gekies. Zoeloetrots is in Vrijheidsreis bevestig.

Die keuse is gemaak om nie in Vrijheidsreis op die veldslag by die Bloedrivier-toneel te fokus nie. Dit word reeds op die friespaneel gedoen. Die fokus val op vier wonderwerke wat vir baie Afrikaners, oor geslagte, steeds ’n getuienis van die Here se redding is, naamlik:

  • Die oormag van ongeveer 16 000 Zoeloes teen 464 Voortrekkers. Dit word uitgebeeld op ’n muurpapier waarop 16 000 skilde geteken is. Erkenning word aan die agttien Zoeloe-regimente, wat by Bloedrivier geveg het, gegee deur skildvelle met elke regiment se naam op.
  • Die flou lanternlig op buite die walaer wat ’n nagaanval verhoed het. In die aandtoneel word gefokus op die Gelofte en Geloftepsalm as belydenis van afhanklikheid.
  • ’n Helder dag na digte, klam mis en ’n week van swaar reën.
  • Daar word bereken dat ongeveer 48 000 werpassegaaie op die laer neergereën het en nie een Voortrekker is dood

’n Belangrike vraag

Die Voortrekkers se Vrijheidsreis eindig by die Magaliesberg waar erkenning gegee word aan Paul Kruger, die seun van die Groot Trek wat sentraal in die Vegkop-friespaneel staan. Die Voortrekkerseun wat later president en simbool van die Afrikaners se vryheidsideaal geword het. Die seun wat onder ’n Engelse vlag gebore is, maar nie onder ’n Engelse vlag wou sterwe nie.

Die Voortrekkers se Vrijheidsreis word saamgevat deur NP van Wyk Louw:

Hul sal nie sterf, hul lewe het

in daardie land so ingetrek

en ingeweek dat hul sal bly

so lank sy kranse bo die see

se lang skuimkringe uit sal staan,

selfstandig en trots en vry.

Vryheid is meer as ’n bestemming. Die geskiedenis leer dat wanneer vryheid in ’n bestemming vasval, lei dit kort-voor-lank tot die onvryheid van gemak, stagnasie, instandhoudingsdenke en uiteindelik tot verval. Vryheid is ’n reispad waar vryheid elke dag op berge en in dale verwerklik word. Die Gelofte getuig; In vryheid is ook ’n verantwoordelikheid. Die vraag is nie net wat leer Afrikaners uit die Voortrekkers se vryheidsreis vir ons eietydse vryheidsreis in die wye en droewe land van 2022 nie, maar waartoe inspireer die Voortrekkers se geloof en prestasies Afrikaners vandag?

Vrijheidsreis is meer as ’n museum. Dit is ’n standpunt en ’n bevestiging van ’n ideaal en reisverhaal wat oor eeue geslagte Afrikaners aan mekaar verbind.

Dr. Danie Langner