Mediaverklaring

8 November 2023

Waar kuns en wetenskap saamkom in een galery

Die Voortrekkermonument se hoof van tuine, Allan Tait, het op 5 November sy eie botaniese kunsgalery geopen wat hy die Allan R Dyer-galery gedoop het.

Allen Dyer is 1900 gebore en was die eerste kurator van die Pretoria Botaniese Tuin. Sy dogter, Rosemary Young (93), het haar pa se hele boekversameling met boeke tot 250 jaar oud aan Tait geskenk, wat deel van die uitstalling uitmaak.

Tait verduidelik dat Dyer destyds outeurs van botaniese boeke se projekte befonds het. Die praktyk destyds was dat die outeur na publikasie ’n “goue boek” (aanbiedingskopie)  vir die donateur saamstel met die oorspronklike handgeskrewe dankbetuiging. Om so ’n goue boek te ontvang, was ’n groot eer en prestasie. Al Dyer se “goue boeke” is deel van die versameling.

Een van die outeurs wie Dyer befonds het, was Gilbert W. Reynolds, ’n gesiene aanlwyn deskundige in Suid-Afrika se geskiedenis.

Tait versier die mure van sy galery met ongeveer 150 oorspronklike skilderye van allerlei plante wat hy oor die jare versamel het. Hy verduidelik dat hierdie skilderye en tekeninge dateer uit die tyd voor daar iets soos kleurfoto’s en digitale media bestaan het. Kunstenaars moes plante bestudeer en die kenmerke van die plant skilder, sodat die botaniste dit kon gebruik ter illustrasie in hul boeke.

“My gunstelingkunswerk moet die geel varkore wees wat Auriol Batten geskilder het. Die bewaringsaspek om die botaniese geskiedenis te preserveer vir die toekoms is na aan my hart,” sê Tait.

Tait vertel dat sy liefde en belangstelling vir plante al van kindsbeen af kom. Sy ouers was ook passievolle natuurliefhebbers en die “plantgene” loop sterk in hul familie. Tait het die openingsdatum van die galery, sy oorlede pa se geboortedatum, gekies om sy pa te huldig.

Hy onthou hoe sy pa hulle gesin op ’n Sondagmiddag na omliggende plase sou neem waar hulle dan na plante gekyk het en tyd in die natuur spandeer het.

Die uitstalling in Centurion is nou oop vir die publiek per afspraak. Enige iemand wat dit graag wil besigtig, kan Allan Tait kontak by 082 708 3054 of by RAllenDyerGallery@gmail.com.