Vandat dit in die Wheeler en Wilson fabriek (Bridgeport, Connecticut, Amerika) in 1871 vervaardig is, het dié 153-jaar oue Singer-naaldwerkmasjien sy weg na die Voortrekkermonument gevind.

Alida Maria van Staden (96) en haar dogter Riëtte Rossouw het op 23 Mei 2024 dié waardevolle skenking aan die Erfenisstigting by die Voortrekkermonument oorhandig.

“Hierdie masjien was aanvanklik die eiendom van my ouma, Martha Catharina van Staden (Martie). Oupa Koot (Jacobus Adriaan) het die masjien tweedehands vir Ouma gekoop. Oupa en Ouma het in 1934 van Potgietersrus na Nylstroom verhuis. Ouma Martie was ’n kleremaakster op Nylstroom,” vertel Rossouw.

Dié masjien het egter nie net gewone mense se stikwerk gedoen nie, maar het ook “blou bloed” onder sy naald gehad. Rossouw vertel dat haar ouma onder andere klere gemaak vir mev. Susan Strijdom en mev. Odendaal – eggenotes van adv. JG Strijdom (later eerste minister van Suid-Afrika) en mnr. FH Odendaal (later administrateur van Transvaal).

Die menere Strijdom en Odendaal was vennote in ’n prokureurspraktyk op Nylstroom.

In 1955 het Martie en Koot van Staden na Vereeniging verhuis, waar sy in Augustus 1989 op 84-jarige ouderdom oorlede is.

“Ouma Martie het ook baie haarlinte ‘omgekap’ met die masjien vir die jong dogters. Roknate is omgekap met die masjien, dit het dubbelnaalde. Daardie tyd was daar nog nie die hedendaagse omkapmasjiene nie. Ouma Martie het ook haar vier kinders en van haar kleinkinders se klere gemaak,” sê Rossouw.

Rossouw vertel verder dat hulle besig is om te verhuis en dus moet die masjien ’n ander tuiste kry.

“Die masjien was in my ouers se besit vir baie jare. Daarna het ons die masjien by ons gehou. My moeder, Alida, is nou 96 jaar oud. Ons wil graag hê die masjien moet behoue bly.”

“Dit is vir my baie belangrik om seker te maak die waardevolle skatte uit ons verlede word goed bewaar, daarom het ek dit aan die monument geskenk. Dit is goed om te weet dat ek op dié manier ons erfenis kan oordra en bewaar vir ons jongmense,” sê Alida van Staden.

Die Erfenisstigting is ongelooflik dankbaar vir waardevolle erfenisskatte soos dié met ’n unieke storie. As jy in die besit is van items wat jy wil hê vir die nageslag behou moet bly, stuur gerus ’n e-pos aan Lizette@kultuurtuiste.org.za.