Sarah Murphy en Jonathan Black toer met hul fietse van Durban af na Zimbabwe. Hulle slaan hulle tent sommer iewers langs die pad op waar hulle dan oornag. In die verbyry tussen niks en nêrens kom die twee op Bloedrivier-erfenisterrein aan en besluit om hier te oornag.
“Die paartjie was baie beïndruk met die juweel wat hulle so onverwags opgespoor het en kon dit amper nie glo nie. Wat hulle hier gesien het, het hulle nooit verwag nie!” vertel Judean Janse van Vuuren, medebestuurder van Bloedrivier-erfenisterrein.
“Dit beteken vir ons verskriklik baie om die storie van Bloedrivier vir internasionale gaste te vertel. Om vir mense te vertel van die wonderwerke wat God daardie dag verrig het en dat alles net die Here se genade was, verander die perspektief van die verhaal heeltemal,” sê Janse van Vuuren.
Sarah en Jonathan is vroeg die volgende oggend weer op hulle fietse weg, maar hierdie keer met nuwe insig en kennis oor iets van Suid-Afrika se geskiedenis. Bloedrivier-erfenisterrein wens hulle ’n veilige reis toe.