Mediaverklaring

12 Januarie 2024

9065 skoolleerders besoek die VTM in 2023

“9065 skoolkinders het in 2023 die Voortrekkermonument besoek. Dit beteken daar is 9065 kinders wat 2024 ingaan, verryk, kultureel ryker en min of meer ’n idee het waar hulle storie begin het. Dit is ’n reusewins vir die toekoms.”

So sê Christiaan Jordaan, toerismebestuur van die Voortrekkermonument.

September 2023, Erfenismaand, was die Voortrekkermonument se besigste maand ten opsigte van skoolbesoeke waar ongeveer 3000 skoolleerders by die monument besoek afgelê het.

“Om die energie, ywer en opgewondenheid van die naastenby 3000 skoliere in een maand op die Voortrekkermonument se terrein te sien, weet mens die volhoubare voortbestaan van ons erfenis is op die regte pad,” sê Simoné Cloete, voormalige toerismebestuurder by die Voortrekkermonument.

Deel van die besoek wat skoolgroepe kan bespreek, is ’n broodbakdemonstrasie by die Pionierswerf, voer van die plaasdiere, ’n toer deur die Voortrekkermonument en boeresport. Die kinders geniet die verskeidenheid aktiwiteite en die opwinding van ’n skoolbesoek kan regoor die terrein aangevoel word.

“Vandag was baie lekker om te kon leer oor die geskiedenis. Dit was veral lekker om deur die Trekroetetuin te stap en te sien hoe die mense getrek het,” sê Ruan Kritzinger (11) na sy besoek aan die Voortrekkermonument in September.

“Dit is vandag my eerste keer by die Voortrekkermonument en ek hou die meeste van die diere en die geskiedenis,” sê Zelmarie Pienaar (7).

“Die Groot Trek-geskiedenis word nie meer op skool geleer nie, maar vir my is dit van die mooiste dele van ons land se geskiedenis, daarom het ek besluit om die kinders hierheen te bring,” sê Tuané Hatting, onderwyseres van Hoërskool Centurion tydens ’n skoolbesoek aan die Voortrekkermonument.

Annemie Jansen van Vuuren van Laerskool Pierneef sê die VTM is ’n belewenis soos min. “Ek het vandag baie van perde geleer en hulle (die perde) is my gunsteling by die monument!”

“Dit is vir my baie lekker om hier te wees saam met my vriende. Ons leer baie oor die geskiedenis wat ons nie geweet het nie,” sê Lwandile Nkosi (15).

Dit is vir die Voortrekkermonument belangrik om vir kinders ’n plek te gee waar hulle hul eie kultuur kan beleef en ervaar, en leer deur om pret te hê. Sluit aan as ’n vriend van die Voortrekkermonument en help ons om ons erfenis toeganklik te maak: https://vtm.org.za/ondersteun/.