Mediaverklaring

12 Januarie 2024

Byna 190 000 mense besoek die Voortrekkermonument in 2023

In 2023 het die Voortrekkermonument 187 597 studente en volwassenes op die terrein verwelkom. Dit sluit feeste regdeur die jaar en die besoeke tydens Gelofteweek en Geloftedag in.

Die totale aantal besoekers op die terrein is in realiteit egter baie meer as kinders (jonger as 18) bygereken word. Kinders is by hierdie getal uitgesluit, omdat die eerste twee kinders onder 18  van ’n gesin die monument gratis kan besoek.

Christiaan Jordaan, toerismebestuurder by die Voortrekkermonument, is van mening dat kinders die toekoms van ons land is, daarom moet hulle nie teruggehou word van geleenthede om te leer nie.

“Elke kind moet die Voortrekkermonument kan kom besoek en leer waar hulle vandaan kom. Ouers betaal genoeg aan skoolgeld, ons wil hê kinders moet hier kom speel en beleef terwyl hulle leer sonder dat geld ’n groot uitdaging vir ouers is,” sê Jordaan.

Die Voortrekkermonument bied tydens elke skoolvakansie ’n vakansieprogram aan waar kinders blootgestel word aan vele aktiwiteite en waar hulle die kans gegun word om in die natuur te leer-speel. Aktiwiteite sluit onder andere in om ’n brood te bak op die pioniermanier, perdry, die plaasdiere voer en ’n handwerkaktiwiteit.

Vanjaar het die Voortrekkermonument ook die grootste Geloftedag in die geskiedenis gehad waar ongeveer 32 000 mense die terrein op 16 Desember besoek het. Ander groot geleenthede wat plaasgevind het, was die Steve Doen-konsert, die Buffelsfonteinfees, die Groot Jol en Erfenisfees.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument, is trots op die groei wat die afgelope jaar plaasgevind het.

“Die kultuurtuiste is nie meer net ’n naam nie. Dit het ’n werklikheid geword,” sê Langner.

Die Voortrekkermonument het verlede jaar veral daarop gefokus om die kultuuraanbod vir besoekers uit te brei.

’n Splinternuwe markplein is opgerig waar besoekers kan kuier en hul bene rus na ’n lang dag se stap. Die eerste museumteater  in Suid-Afrika is geopen waar geskiedenis op ’n lewendige en interaktiewe wyse aangebied word. Daar is ook begin met ’n leefstylaanbod wat vir mense die geleentheid gee om op die terrein te kom draf en fietsry, die plaaswerf word uitgebrei en ’n plaasdam is by die Pioniersentrum opgerig waar kinders nou in die water kan baljaar.

Die Voortrekkermonument hoop om vanjaar selfs nog meer mense te ontvang en dat mense nie net die monument sal besoek en huis toe gaan nie, maar dat hulle die kultuuraanbod by hul kultuurtuiste ten volle sal benut.