Mediaverklaring

11 Januarie 2023

Nóg ’n skat van die Laas-familie op Erfenisskattedag aan die VTM geskenk

Op Erfenisskattedag ontvang die Voortrekkermonument ’n skenking van die Laas-familie wat onskatbare waarde tot die erfenisversameling voeg.

Erfenisskattedag word wêreldwyd op 11 Januarie gevier en dié dag moedig mense aan om meer van hulle unieke erfenis te leer ken. Dit is ook ’n dag om monumente te bewaar en fondse in te samel vir ikoniese landmerke en monumente regoor die wêreld.

Helena Elizabeth Laas, of net Anel du Preez soos die meeste mense haar ken, skenk ’n oorspronklike riempiestoel van die Laas-familie wat die Groot Trek meegemaak het.

Dié erfenisskat sal langs die Laaswa in die Senotaafsaal sy geregmatige plek inneem. Die Laaswa is een van die min oorblywende ossewaens wat die Groot Trek oorleef het en ook by Bloedrivier was.

Na haar pa, Dirk Cornelis Laas, se afsterwe in 1994, het Du Preez se ma na ’n kleiner plek getrek en haar kinders het ’n klomp ou meubels en familieskatte geërf. Dit is eers toe Du Preez van die Laaswa op Maroela Media lees, dat sy die waarde van die items in haar huis besef het.

“Daar is skatte in ons huise waarvan ons nie weet nie. Ons moet weer begin om familiestories oor te vertel,” sê Du Preez.

Du Preez vertel verder toe sy Geloftedag op die 16de Desember by die Voortrekkermonument bywoon en sy hoor die gedeelte oor nageslag, besef sy skielik dat haar kinders “nie weet wie ons is nie”.

“Ek het besef ek moet iets doen dat my kinders weet wie is die Laase en dat hulle ’n bydrae gelewer het. In ons huis is die motto om altyd ’n bydrae te maak. My kinders moet weet wie hulle is en trots wees daarop.”

Gehard Pretorius, kommunikasiehoof van die Voortrekkermonument, sê dat ’n ontdekking van ’n skat soos wat Anel gevind het, ’n mens op ’n ontdekkingsreis na identiteit stuur.

“As ’n mens op ’n skattejag in jou herkoms gaan, dan ontdek ’n mens jou identiteit. Hierdie identiteit word weer deur ’n mens se kultuur gevorm. Anel het vandag nie net ’n besondere skat aan die monument toegestaan nie, maar ook aan haar kinders gegee: die skat om te weet wie hulle is en waar hulle vandaan kom,” sê Pretorius.

Die Voortrekkermonument is tans die bewaarplek van vele erfenisskatte wat uit die Groot Trek dateer. Behalwe die Laaswa, is daar ook die tafel waarop Piet Retief en Dingaan die traktaat geteken het saam met Retief se waterbottel en gebedeboekie, die broek wat Sarel Cilliers aangehad het tydens die Slag van Vegkop, ’n baba se kappie van Bloukrans en natuurlik kanon Grietjie wat by Bloedrivier was.

Die Voortrekkermonument is dankbaar om vandag nog ’n skat tot hierdie waardevolle versameling te kon voeg. As jy in besit is van enige sulke skatte in jou huis, stuur gerus ’n e-pos aan Lizette@kultuurtuiste.org.za.