Die Voortrekkermonument kan spog dat die bekende sanger en liedjieskrywer Adam Tas ook nou ’n ambassadeur van die Voortrekkermonument is wat die monument beskerm.

Adam Tas is die derde ambassadeur van die monument, na die gemengde gevegskuns- wêreldkampioen Dricus du Plessis en oud-Springbokrugbyspeler Marcell Coetzee.

“Hierdie is my kultuurerfenis. As jy nie die verlede onthou en waar jy vandaan kom nie, het jy geen pad om die toekoms in te vat nie. Ek is ’n trotse ondersteuner van die Voortrekkermonument, die hele terrein en alles waarvoor dit staan,” sê Tas.

Tas en sy span het op 4 Maart 2024 die Voortrekkermonument besoek om ’n foto in die tuine te neem vir ’n groot advertensiebord wat op die R21 opgerig gaan word tussen Pretoria en OR Tambo-lughawe. Dié bord is vir Tas se jag en visvangprogram, Byt en Buskruit in samewerking met Wildman en AfriForum TV en sal ’n reusefoto vertoon van iemand met ’n jaggeweer. Die sesde seisoen van Byt en Buskruit sal in April verskyn. Hierdie program word nie net in Suid-Afrika nie, maar regoor die wêreld verfilm.

“Ek het ’n geweer, Dricus het sy vuiste, maar hy is nou so famous, hy is so min hierso, so ek is nou die nuwe beskermheer. Sorry, Dricus, alles van die beste hoor,” sê Tas spottenderwys oor sy nuwe status as ambassadeur van die Voortrekkermonument.

“Dit is wonderlik om te sien dat ons ’n jonger generasie van ambassadeurs het wat die Voortrekkermonument wil ondersteun. Dricus, Marcell en Adam is mans wat gereeld die monument besoek en trots die fakkel dra van ons baken van hoop,” sê Gerhard Pretorius, kommunikasiebestuurder by die Voortrekkermonument.

“Ons ambassadeurs stop egter nie net daar nie, elke persoon wat die monument besoek en ondersteun is ’n ambassadeur van ons geloof, kultuur en ons taal. Net soos die leiers van die Groot Trek (Gerrit Maritz, Hendrik Potgieter, Piet Retief, Louis Tregardt en Piet Uys) is hierdie drie ambassadeurs hedendaagse pioniers om ons erfenis te bewaar,” sê Pretorius.

Elkeen wat die Voortrekkermonument ondersteun, is dit nou finansieel of met ’n besoek, is ’n ambassadeur vir ons. Jou vriendskap kan ons help om ’n verskil te maak in die gebied van erfenisbewaring: www.vtm.org.za/donasies/.