Die Voortrekkermonument (VTM) se nuwe markplein het behoorlik gewemel waar die Antiekmark ’n nuwe tuiste gekry het op die kultuurtuiste se nuwe markplein.

Die VTM se nuwe markplein het gasheer gespeel vir 70 uitstallers wat nie kan wag vir die volgende mark nie.

Liora Subel stal al vir 30 jaar uit by Antiekmarkte en kon nie uitgepraat raak oor die nuwe mark se tuiste nie.

“Ek gaan sommer vooruit betaal vir die hele jaar se markte. Ek is al 30 jaar betrokke by marke en ek weet wanneer iets gaan werk, en die mark gaan werk waar hy nou is. Dit is pragtig met die monument in die agtergrond en almal waarmee ek praat, is baie positief. Ek sien uit na die toekoms van die mark,” sê Subel.

Willem Pretorius, nog ’n uitstaller wat ook al vir jare uitstal, is ook beïndruk met die nuwe markplein.

“Ons is gelukkig vandag die son bak ons nie uit nie. Die hele markkonsep hier by die Voortrekkermonument, ek voel dit gee goeie aandag aan die Voortrekkermonument en dit gaan groei, so ons is dankbaar om hier te wees,” sê Pretorius.

Markgangers het ook nie geskroom om hulle beursies uit te haal nie.

“Dit is baie lekker, ons woon al vir die drie jaar die mark by en dit is lekker hierbo. Ons kon opgaan monument toe en ’n paar foto’s neem en bietjie daar gaan kyk. So vir ons is dit regtig baie lekker,” sê Charmaign Uys.

Die volgende familiemark is op 5 en 6 April en die Antiekmark vind op 16 Junie plaas.