Vandag nog ontlok die blote noem van die naam Ossewabrandwag (OB) uiteenlopende menings. Daar is heelwat wanpersepsies oor die beweging wat meestal uit onkunde of vooroordeel spruit. Die OB is met die Europese fascistiese bewegings van die 1930’s en 1940’s vergelyk en van Nazisme beskuldig. Dit is ook al beskryf as ’n ondergrondse terreurbeweging. Selfs die wortels van apartheid is in die beweging gesoek.
Daar word grootliks vergeet dat die OB in die vroeë 1940’s, op die hoogtepunt van sy gewildheid, waarskynlik nie ‘n gelyke in die Afrikanergeskiedenis gehad het nie. Met meer as 300 000 lede was die beweging die grootste van sy soort in die geskiedenis van die Afrikaner.
Die Tweede Wêreldoorlog het ’n reuse-invloed op Suid-Afrika gehad. Buiten die internasionale konflik waaraan die Unie van Suid-Afrika deelgeneem het, was daar ook struweling in die plaaslike politiek.
Van kultuurorganisasie tot ’n militante groep. So uiteenlopend is die beskrywings wat vandag nog aan die OB gegee word. Die weerstand wat die OB teen die regering se betrokkenheid by die Tweede Wêreldoorlog gebied het, het uiteenlopende reaksie uitgelok.
Die geskiedkundige en skrywer, Albert Blake, het Donderdagaand tydens die opening van die uitstalling, 1942 – Afrikaners en die Tweede Wêreldoorlog, by die Erfenisstigting by die Voortrekkermonument in Pretoria, meer lig gewerp op die invloed wat hierdie wêreldgebeurtenis op die geskiedenis van Suid-Afrika gehad het.

Die historikus en skrywer, Albert Blake, tydens die opening van die uitstalling, 1942 – Afrikaners en die Tweede Wêreldoorlog, by die Erfenisstigting by die Voortrekkermonument in Pretoria
Volgens Blake is die OB in 1939 aanvanklik as ’n kultuurorganisasie (met ’n mans-, vroue- en jeugafdeling) gestig, maar onder sy charismatiese leier Hans van Rensburg is dit geleidelik verpolitiseer tydens die onstuimige oorlogsjare toe daar ’n genadelose stryd om beheer van die Afrikanersiel was.
Blake se boek, Afrikaner-Sondebok? Die lewe van Hans van Rensburg, Ossewabrandwag-leier, het verlede jaar verskyn.
“Hoewel die beweging ’n eiesoortige nasionaal-sosialisme aangehang het, was die hoofdryfveer altyd Afrikanernasionalisme en die vestiging van ’n republiek – wat as geregverdigde strewes in die stryd teen Britse oorheersing beskou is. In die nadraai van die lyding en smart van die Anglo-Boereoorlog, asook die ontnugtering van die Rebellie, was die OB die Duitsers goedgesind en die Britte vyandiggesind gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Die grondslag daarvan was eerder ’n anti-Britse as dié van ’n pro-Nazi-gesindheid.”
Hy sê voorts dat Afrikaners tydens die Tweede Wêreldoorlog self meer verdeeld was en hulle onderlinge bitterheid was groter as ooit.
’n Kleiner aktivistiese groep, die Stormjaers, het binne die OB ontstaan. Die Stormjaers het hulle tot sabotasie gewend, terwyl die meeste lede van die OB teen enige vorm van geweld gekant was. Hoewel die Stormjaers onafhanklik gefunksioneer het, word hul dade van sabotasie dikwels verkeerdelik aan die OB toegeskryf.
“Op sy beurt het die Smuts-regering duisende Afrikaners wat van ondermynende optrede verdink is (soms ongegrond), in die land in interneringskampe op verskeie plekke aangehou. Honderde is sonder verhoor in die tronk aangehou.”
Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Erfenisstigting en Voortrekkermonument, het gesê hierdie nuwe uitstalling as “besonders” bestempel.
Langner het die vraag wat mense dalk oor wonder oor hoekom ’n uitstalling oor die OB, beantwoord deur te sê: “ Want dít is deel van ons storie. ’n Deel van die Afrikaner se geskiedenis. Dít spreek oor die behoefte onder Afrikaners aan om oor hulle geskiedenis te mag praat. Ons mag ook ons storie geniet. Dit is ’n komplekse storie. Ons wil juis met hierdie uitstalling die kompleksiteit daarvan beklemtoon”.
Die verhaal van Elsa (néé Nel) de Wet, ’n oudleerling aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool, is ook deel van hierdie uitstalling.
Elsa word as ’n heldin beskou nadat sy in hegtenis geneem is omdat sy geweier het om die wegkruipplek van twee vlugtelinge aan die polisie bekend te maak. Sy het ’n aantal dae in die tronk deurgebring voordat sy vrygelaat is. Sy was slegs 17 jaar oud tydens die voorval in 1940.
Persoonlike items wat insluit ’n lessenaar, glasbeker en teleskoop in leerhouer, wat aan dr. Hans van Rensburg behoort het, is ook deel van hierdie uitstalling. Selfgemaakte items wat OB-lede in interneringskampe gemaak het en klere wat OB-lede gedra het, waaronder ’n wit romp en wit baadjie en blou rokkie van die Ossewabrandwag se Boerejeug en ’n Stormjaer-hoed, word ook uitgestal. Daar is ook ’n skildery van BJ Vorster, voormalige eerste minister van Suid-Afrika, as lid van die OB, met ’n wit safaribaadjie aan.
Van Rensburg se skoondogter, Aletta, en haar dogter, Annie Snyman, en kleinseun, Frankie, het die uitstalling bygewoon.
Aletta het die uitstalling as uitstekend opgesom.
Sy sê sal altyd haar skoonpa as “vreeslik ordentlik” en “baie sjarmant” onthou.

Aletta Janse van Rensburg, en haar dogter, Annie Snyman het die uitstalling bygewoon.
Floris Coetzee wat as jongman in die Koffiefontein-inteneringskamp aangehou is, se twee dogters, Fransie van der Walt en Hanna van Wateren, was ook gaste.
“Dit was vir ons lekker om hierdie geskiedenis weer te herleef,” het Fransie gesê.
Hanna het vertel van die naaldwerkkissie van hout wat haar pa vir haar ma, Johanna, in dié inteneringskamp gemaak het.
“Ek gebruik hierdie naaldwerkkissie steeds vandag.”

Floris Coetzee wat as jongman in die Koffiefontein-inteneringskamp aangehou is, se twee dogters, Fransie van der Walt en Hanna van Wateren, was ook gaste by die opening van hierdie uitstalling gewees.

Floris Coetzee (middel, in die swart pak) wat as jongman in die Koffiefontein-inteneringskamp aangehou is.
Die publiek kan van Maandag tot Sondag van 08:00 tot 16:00 na die uitstalling, 1942 – Afrikaners en die Tweede Wêreldoorlog, by die Erfenisstigting by die Voortrekkermonument in Pretoria, kom kyk.