Die Bloedrivier-erfenisterrein se personeel het meer as 80 Kinderbybels aan ’n skool in KwaZulu-Natal oorhandig.

Die Bybels, wat in Zoeloe geskryf is, is aan leerlinge van die Vegkop Laerskool, by die erfenisterrein, geskenk.

Die Bybelgenootskap het die Bybels geskryf, ontwerp en gedruk vir projekte soos dié.

Vegkop se skoolhoof, Sandile Ngobese, kon nie genoeg sy dank uitspreek oor die skenking nie.

“Die leerlinge het nie almal noodwendig hul eie boeke om te lees nie. Dit skep ’n enorme uitdaging as die leerling moet hoërskool toe gaan.

“Ek glo dié Bybels sal hulle inspireer om harder te werk en ook by die huis verder te lees.

“Bybelstories is ook baie belangrik omdat dit hulle sal aanmoedig om beter morele besluite te kan maak,” sê Ngobese.

Anton Janse van Vuuren, bestuurder van die Bloedrivier-erfenisterrein, sê daar moet ’n baie goeie verhouding wees met gemeenskappe in die gebied.

“Dit is ’n voorreg om te kan teruggee aan die plaaslike gemeenskap. Die Voortrekkers het deur geloof vermag wat amper geen ander groep mense in die wêreld nog kon doen nie.

“Deur geloof en Christenskap word daar eenheid geskep, so dit is vir ons ook baie belangrik om die woord van die Here te versprei.

“Dit maak my hart warm om te sien hoe opgewonde die jongspan was toe hulle hul Bybels ontvang het. Sulke projekte in gemeenskappe is broodnodig,” sê Janse van Vuuren.

Die projek sal nou nog verder in die gemeenskap uitgebrei word.