Danie de Jager neem sy plek in by die Voortrekkermonument

Op 28 Julie 2022 het ons ’n geskiedkundige oomblik in die Voortrekkermonument (VTM) se bestaan gevier waar een van Suid-Afrika se mees bekende en gerespekteerde beeldhouers se werke aan die publiek bekend gestel word.

Shawu

Talle beelde van wyle Danie de Jager is aan die monument geskenk waaronder een van die mees bekende olifante ter wêreld, Shawu se maket.

Vroeër vanjaar het die Danie en Else de Jager Trust die VTM gekontak om te hoor of die monument sou belangstel om op te tree as beskermheer van ’n gedeelte van sy gesogte versameling.

Tydens die amptelike inhuldiging het die voormalige minister van finansies, Barend du Plessis, wat self ’n trustee van De Jager-Trust is, gesê De Jager se werk kan vir almal ’n les leer van uithouvermoë en ’n strewe na uitnemendheid.

“Danie het ’n voorskrif vir homself gehad met hierdie letterlik reuseprojek: ‘As jy ’n klein foutjie maak met jou skaalmodel, word dit ’n reusefout met die lewensgrootte beeld.’ Laat die filosofiese les van hierdie stelling van Danie de Jager, vandag nie by ons verbygaan nie,” het hy vertel.

“Nou pryk reeds hierdie afbeelding van Shawu, saam met ander beelde van Danie de Jager en ander kunsikone in ons geskiedenis, hier in die skaduwee van die Voortrekkermonument, wat die belangrikste geskiedenisbaken is vir ons as die nageslag van die Voortrekkers,” het hy afgesluit.

Bekende politikus en lid van die Zoeloe koninklike familie, Mangosuthu (Gatsha) Buthelezi, kon weens gesondheidsredes nie self die verrigtinge bywoon nie en het sy spyt uitgespreek dat hy nie in persoon dié geskiedkundige oomblik kon ervaar nie.

“Vandag voel ek, meer as ooit in die verlede, die belang van die VTM as deel van ons gedeelde kulturele erfenis en ek glo ek is nie alleen nie,” het hy vertel.

“Daar is baie meer aan ons geskiedenis as bloedvergieting en seer en dít is wat hierdie funksie vandag verteenwoordig. Ons waardeer die respek en erkenning wat die Zoeloe-nasie ontvang by die VTM en die weldeurdagte wyse waarop hul met ons geskiedenis omgaan veral vandag waar Shawu, die groot olifant, sy plek langs Umgungundlovu inneem.”

Voorsitter van die VTM-direksie, ds. Cassie Aucamp het gesê dit is vir die monument ’n ongelooflike eer om hierdie beelde op ons terrein te kan huisves.

“Dit beteken vir ons by die VTM ontsettend baie om die beelde hier te kan hê,” het hy vertel. “Bewaring is nie net om iets veilig in ’n doekie te hou en dit later net so terug te gee nie, maar om daarmee te werk en so het hierdie beelde ook in ons volksbestaan n plek gekry en deelgeword van die storie wat ons vertel.”

Hy het verder vertel dat dit ook ’n groot eer is om die Shawu-beeld hier te kan huisves as ’n verteenwoordiging van die Zoeloe-adel en die gedeelde geskiedenis en vryheidsideaal met die Afrikanervolk.

“Ek hoop almal wat die beelde sien kan iets daaruit put en weet ons het almal ’n lewende geskiedenis wat met ander volke en kulture kan deel en vier,” het hy afgesluit.

Bhelekazi Mabandla die prinses en diplomatieke verteenwoordiger van die AmaBhele kaJamangile Tradisionele Gemeenskap  wat naby Maclear woon, het ook besoek afgelê by die VTM om dié verrigtinge by te woon. Sy het verduidelik dat dit vir haar aangrypend was om opnuut te besef hoe Suid-Afrikaanse kulturele erfenis oor grense breek en mense weer leer hoe om saam te staan om ’n beter toekoms te bou.

“Dit is ’n absolute eer om vandag hier te wees. Ek wil graag enige iemand aanmoedig om hier by die VTM besoek te kom aflê om die beelde te beskou, om meer van ons geskiedenis te leer oor ons geskiedes en hoe om saam te werk .”