Erfenisfees

Dis weer tyd vir die Voortrekkermonument se jaarlikse Erfenisfees en oudergewoonte is die program propvol pret vir die hele gesin.

Kom vier jóú erfenis saam met ons by die Voortrekkermonument.

Waarna kan jy uitsien?

By die Pionierswerf is ’n regte plaasopstal uiteengesit, kompleet met hoenders, varke, boerbokke en makoue. Hiermee saam kan mens deur die Pioniersmuseum stap en interaktief leer van “toeka tot nou”-tegnologieë en die ontwikkeling van Suid-Afrika.

Moet ook nie vergeet om ’n draai in die Lewende Laer te maak nie. Daar kan die lewe van die Voortrekkers van ouds nie net gesien word nie, maar ook ervaar en aan deelgeneem word.

Hier is waarna jy kan uitsien:

09:00 – 15:00     Maak ’n kleibaksteen

09:00 – 12:00     Maak ’n lappop-werkwinkel

09:00                    Voer die werfdiere

11:00                    Broodbak-demonstrasie

12:15                    Voer die werfdiere

As deel van die plaasopstal, gaan ’n egte hartbeeshuis van kleibakstene gebou word. Kom bou jou steen en wees deel van die projek.

Verken jou erfenis in Fort Schanskop

Kom stap saam deur die Fort en luister na ’n lesing deur prof. Anton van Vollenhoven. Deel in ’n gesprek oor die ontstaan van Pretoria, vroeë Pretoria gedurende die ABO, militêre fortifikasies van Pretoria en Pretoria vandag.

Geniet Boer en Brit versnaperings gedurende die lesing en kom ervaar hoe die kanon afgevuur word met swartkruit.

08:30 vir 09:00 tot en met 11:00

R160 per persoon. Kaartjies beskikbaar tot en met 20 September.

Klik hier om jou kaartjie(s) te koop: https://plankton.mobi/Events/EventBooking/4d772660-6233-ed11-9714-00155d636701

Die Antiekmark maak weer ’n draai by die Voortrekkermonument vir Erfenisfees.

Oom Jan van Oosten, wat al vir die afgelope 16 jaar lank hier by die VTM uitstal, het tydens die vorige mark gesê dat dit vir hom ’n riem onder die hart is om te sien hoe dié fees keer op keer net groter en beter word.

Kom sluit by ons aan om te sien waarom Oom Jan so liries daaroor raak.

By die Antiekmark is daar verskeie skatte om opgespoor te word. Moenie dit misloop nie!

Die FAK sorg vir ’n heerlike wynproegeleentheid in die FAK Afrikaanse Liedjietuin.

Hier kan jy Adam Tas se Skilpadtepel Gin probeer, of selfs Buffelsfontein se biertjie proe.

Ons FAK Jan van Riebeeck-reeks sal ook weer by die geleentheid verkoop word.

Polsslag Voortrekkerkommando sorg vir al ons vermaak op die Voortrekkermonument se hoofparkering.

Kom stap deur die stalletjies, kry vir jou ietsie lekker te ete en skryf jou en jou gesin in vir die boeresport wat plaasvind op die VTM se grasperk, binne die walaer!

Toets jou kragte met sakspring, toutrek en vele ander boeresport-gunstelinge.

Ons sien uit daarna om vanjaar Erfenisdag saam met jou te vier!

Moenie dit misloop nie!

Slegs R20 per motor vir parkering.