“Die personeel het my verwagtinge oortref. Of hulle die reeks gekyk of gelees het, was daar in elke groep ’n karakter met wie iemand kon identifiseer. Baie het van Rudolf gehou, baie het groot simpatie met Hendriena gehad en die meeste het van tannie Poppie gehou,” sê dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument.

Die Kultuurtuiste-personeel het in Desember 2023 die opdrag van dr. Danie Langner gekry om Geknelde Land deur FA Venter te lees en dat hul kennis oor die boek getoets sal word. Vir die nie-lesers, is die opsie gebied om die TV-reeks te kyk wat in die 1980’s uitgesaai is.

“Die Geknelde land-reeks van FA Venter is een van die beste reekse oor die Voortrekkertydperk en die Groot Trek. Ons werk hier in die konteks van die Voortrekkermonument. Dit is baie belangrik dat ons nie hierdie geskiedenis net ken met ons koppe nie, maar met ons harte kan verstaan,” sê Langner.

Vandag is die personeel se kennis oor Geknelde Land getoets deur ’n gesprek en ondervraging deur Langner. Dit blyk die boek het hulle nie soveel geknel soos dit gekwel het nie! Daar is ’n 100%-slaagsyfer.

Langner was veral verras dat die personeel die opdrag geniet het.

“Mense lees nie sommer meer nie en dit is ’n boek wat moeilik geskryf is, in ’n moeilike Afrikaans. Dit gaan oor ’n moeilike konteks. Aan die begin was daar baie weerstand teen die lees van die boek, maar vandag het die meeste gesê hulle het die boek geniet en baie wil aangaan om die res van die reeks te lees.”

As ’n bonus het Langner aangekondig dat personeel wat die hele reeks lees en hul mondelinge “eksamen” slaag, ’n beloning sal ontvang.

“Geskiedenis soos ons dit vir mense moet vertel, is nie net ’n klomp feite wat ons moet aframmel nie, maar juis om die harte van hierdie mense te kan vertolk en min boeke doen dit so goed soos FA Venter se reeks met die Dreyer-gesin.”

“In die boeke leer ons wat die Voortrekkers se ideale was, ons leer hulle vrese ken wat hulle gedryf het. In die boeke ontmoet ons hulle as gewone mense, wat ’n goeie toekoms vir hulle kinders wil hê.”

Langner vertel verder dat Geknelde Land noodsaaklike agtergrond gee wat nodig is om die Voortrekkers te leer ken en te verstaan. Volgens Langner gee veral die TV-reeks belangrike kultuurhistoriese inligting en ’n blik in die Voortrekkerlewe, soos hoe rieme gebrei is, hoe kerse gemaak is, watter speelgoed hulle gehad het en hoe hulle gesaai en geploeg het.

Langner wil mense aanmoedig om Geknelde Land te lees.

“Ek dink daar is baie ooreenkomste tussen die Oosgrens van 1834 en Suid-Afrika vandag. ’n Mens sien dit nie net in terme van die politiek en ekonomie nie, of in terme van verhoudings nie, maar ook in die keuses wat gesinne moet maak. Of ons moet bly, of ons moet trek. Wat is die bestemming en die druk wat dit op ons gesinne sit. So Geknelde Land help ons om ons eie tyd en konteks bietjie beter te begryp en te verstaan. Dit bly ’n inspirerende storie van vasbyt, van opstaan en weer te begin bou.”

Die hele Geknelde Land-reeks is in die Voortrekkermonument se geskenkwinkel te koop en die reeks is op YouTube beskikbaar.