Die Voortrekkermonument is nou 1000 spekboompies ryker danksy ’n ongelooflike skenking.

Chamberlains het vandeesweek ’n duisend spekboomsteggies aan die Voortrekkermonument geskenk as deel van ’n groot nasionale projek wat hulle onlangs geloods het.

“Ons doelwit hierdie jaar is om 21 000 spekboomsteggies te skenk,” vertel Werner Wehrmann wat namens die hardewaregroep die skenking gemaak het. “Spekbome is baie ryk aan koolstofdioksied en is dus baie gesond in terme van suurstofinname. Deur hierdie skenkings wil ons ons gemeenskappe groener maak.”

Samantha Müller, funksiekoördineerder by die Voortrekkermonument, sê ’n skenking soos dié blaas nuwe lewe in die kultuurtuiste van die Voortrekkermonument.

“Saam kan ons ’n verskil maak. Ek weet nog nie mooi wat presies ons met die spekboompies wil doen nie, ek weet net ons gaan dit beslis aanwend om ’n verskil te maak,” sê Müller.

Danie Dreyer, sekuriteitshoof by die Voortrekkermonument, sê mense vergeet soms dat die natuur ook deel is van ons erfenis.

“Dit is ons plig om ons natuurerfenis ook op te pas en uit te bou; deur iets eenvoudig te doen soos spekbome te plant,” sê Dreyer.

Volgens Wehrmann is die Voortrekkermonument Chamberlains se Centurion-tak se tweede tuiste. “Ons span kom stap gereeld by die Voortrekkermonument en ons het al vir afsluitings daar gebraai. Toe ons die plekke moes identifiseer waarvoor ons die skenkings wil maak, was ons almal dit eens dat die Voortrekkermonument een van die plekke moet wees.”

Die Voortrekkermonument wil Chamberlains opreg bedank vir hierdie wonderlike inisiatief en gawe skenking.