Die Konrad-Adenauer-Stiftung/Stigting (KAS) het die afgelope naweek 17 van hul beurshouers na die Voortrekkermonument (VTM) gebring om hiér meer te leer oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis.

Die KAS is gestig deur die Duitse Christin Demokratiese Party om politiese bande te smee regoor die wêreld en daarom het die stigting besluit om op Saterdag, 1 April, dié groep studente, wat elk besig is met hul Doktorsgrade, na die monument te bring.

Maximillian Kiss, ’n verteenwoordiger van die KAS, het tydens hul besoek gesê dat dié Suid-Afrikaanse toer en die besoek aan die VTM vir die groep studente van onskatbare waarde was.

“Ons studente het almal, voor ons besoek aan Suid-Afrika, baie studies gedoen en gesprekke gehad oor Suid-Afrika; die geskiedenis van die land en die politiek,” het hy vertel.

“Ek dink dit was besonders spesiaal om hier besoek te kon aflê en met nuwe oë na die land te kyk. Ons was ook in Johannesburg waar ons die Apartheidsmuseum en Soweto besoek het en ons gaan ook besoek aflê in die Kaap, so almal is baie opgewonde om in praktyk ook meer oor die land en sy mense te leer.”

Die studente is na hul toer ook, tydens ’n seminaar in die Transvaalkamer, toegespreek deur Flip Buys, die voorsitter van die Solidariteit Beweging, Chris Opperman van die Afrikaner Africa Initiative en prof. Danie Goosen, direksievoorsitter van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge.

Buys het vertel dat hierdie besoek vir die studente ’n belangrike blik op die geskiedenis van die land gegee het.

“Dit is baie belangrik dat ons die geleentheid gebruik om vir alle buitelandse besoekers, veral sulke jong studente, ons kant van die geskiedenis te vertel,” het Buys gesê.

“Geskiedenis het baie kante, daar is nie net een geskiedenis nie, daar is geskiedenisse. Elke gemeenskap sien homself as die sentrum van die wêreld en skryf sy geskiedenis as die sentrale verhaal van die mensdom,” het hy uitgebrei.

“Sover het die studente nou die een kant van die geskiedenis geleer toe hulle vroeër die Apartheidsmuseum besoek het en dit is ook belangrik dat hulle hiér die ander kant van die geskiedenis kon kom leer. Mens kan nie verwag dat mense dadelik met mens gaan saamstem nie; hulle kom met ’n sekere siening en as jy 20 studente het, het jy 20 standpunte, maar ons het tog gesien dat daar baie meer begrip is vir ons standpunt as hulle darem die ander kant van die storie gekry het.”

Gregor Jaecke, die voorsitter (“resident representative”) van die KAS het op sy beurt gesê hy is baie trots om dié studente hier by die VTM te kon hê en hul die kans te kon gee om skouers te skuur met kenners van ons land se politiek en geskiedenis.