“Dit was hulle plig om te dien. Dit is nou óns plig om te onthou!” Met hierdie slotwoorde uit die nuwe musiekblyspel, Die Kaplyn is honderde mense op hul voete gedwing en met ’n dawerende applous wat die AfriForum Teater vul, besef mens weer hierdie waarheid: “Ons mag nooit vergeet nie.”

AfriForum Teater het onlangs ’n splinternuwe musiekblyspel, Die Kaplyn op die planke gebring en skaars ’n week na openingsaand het dié vertoning reeds die hele land aan die gons.

Met die gaste se aankoms by die teater word ieder en elk gegroet met ’n “ratpack” en ’n eg-Angolese Cuca-bier en neem die ingangsportaal mens op ’n reis deur die geskiedenis met militêr-geïnspireerde dekor.

Die Kaplyn wat in samewerking met Inhoud Huis Musiek aangebied word, spog met bekende name in die musiek- en teaterbedryf soos Johan Vorster, Ilán van Staden en Jacomien de Wet. Soos die produksie se voorganger Die Gelofte, is Die Kaplyn ook deur Johan Vorster en Jannes Erasmus geskryf. Erasmus was ook vir die regie van die produksie verantwoordelik. Die musiek en lirieke is deur Vorster en Jacomien de Wet behartig met Francois Lessing wat die orkestrasie en musiekregie behartig het.

Erasmus vertel dat hierdie blyspel nie net ontstaan het uit ’n liefde vir geskiedenis nie, maar ook uit ’n pligsbesef dat die geskiedenis altyd behoue moet bly.

“Dit is vir my, ek dink eintlik vir almal wat by die produksie betrokke was, baie belangrik om ons land se geskiedenis te laat voortleef, veral onder ons jeug,” het hy vertel.

“In ’n wêreld vol tegnologie, dink ek is dit moeilik vir jongmense om geskiedenis te bekom of om aanklank te vind by die bronne en daarom dink ek is daar soveel waarde aan ’n produksie soos Die Kaplyn, want dit gee ons as skrywers, akteurs en sangers die geleentheid om op ’n lekker manier weer ons geskiedenis te herontdek. As jy in die teater sit dan word jy vir daardie uur of twee werklik deel van die storie wat voor jou afspeel.”

Die Kaplyn plaas die gehoor in Nuwejaar 1979. ’n Groep jongmense vier die lewe en jong mans maak gereed om weermag toe te gaan. Ons sien hoe die verhaal afspeel van ’n gesin, vasgevang in die oorlog met twee seuns op pad grens toe, ’n jong meisie op skool wat haar voete as jong volwassene wil vind, ’n ma wat troos, lei en liefhet terwyl sy self worstel met die spanning van ’n man en kinders in die weermag.

Teen die agtergrond van ’n oorlog is daar temas soos die liefde, genade, geloof, vergifnis, verhoudings en struikelblokke wat dikwels oorskadu word in geskiedskrywe, maar hier word dié kant van die verhaal ook vertel. “Die Kaplyn is ’n familiesaak wat almal raak, nie net die troepe nie. Ons storie is ’n fiktiewe verhaal wat teen die agtergrond van die Grensoorlog vertel word. Deur dié verhaal word hulde aan die helde gebring wat onder baie van ons dakke woon, maar waarvan ons so min weet,” sê Johan Vorster en Jacomien de Wet, medeskrywer van Die Kaplyn-musiekblyspel.

Vorster het ook gesê hy is baie opgewonde oor hierdie musiekblyspel omdat dit net nog ’n bewys is dat die Afrikaanse musiekbedryf van krag tot krag gaan.

“Afrikaanse musiek is al vir soveel jare topverkopers regoor die land, maar met Die Kaplyn, en selfs Die Gelofte, het ons weer gewys dat Afrikaanse vermaak nie net ‘ligte’ vermaak hoef te wees nie – Afrikaans is slim en klassiek en het die vermoë om stories te vertel soos min ander tale en ek dink dit is hoekom hierdie blyspel reeds so gewild is,” het hy vertel.

De Wet het op haar beurt dié woorde geëggo en sê produksies soos hierdie hou ons taal lewend.

“Afrikaans is ’n lewendige taal en ek glo dit kan nooit doodgaan nie,” het sy gesê.

“Teater, soos die hele vermaaklikheidsbedryf, het seisoene – somer- en wintermaande – maar ten spyte daarvan bly Afrikaans sterk en Afrikaans gaan oor genres heen. Dit is waarom die reaksie op ons produksie my so opgewonde maak, want dit wys mense is nog honger vir Afrikaans en honger vir ons geskiedenis.”

Die Kaplyn is ’n verhaal van hoop te midde van hartseer en verlies en vir Ilán van Staden, wat die hoofrol in dié produksie vertolk, is dit waar die hart van die verhaal lê: “Hoop.”

Die Kaplyn is ’n storie van hoop, en nes ons hier sien hoe die karakters uit die verlede moes vasklou aan hul geloof en hul hoop, kry ons ook hoop vir ons toekoms,” het hy vertel.

“Ek het baie hoop vir ons toekoms, want ek sien hoe die jongmense hier aankom om saam met ons hul taal en kultuur te vier. Ek dink dit leer mens ook dat almal hul platform kan gebruik om hoop te saai – of jy nou die geskiedenis vertel aan jou skoolmaats en dit só laat voortleef, en of jy betrokke raak by organisasies wat help om ons taal en kultuur te beskerm,” het hy uitgebrei.

“’n Jaar terug sou ek nooit kon dink dat ek eendag so deel sou wees van ’n groep mense wat die geskiedenis op die verhoog laat voortleef nie, maar hier staan ek vandag en vertel die storie van ons manne wat hul lewens op die spel geplaas het op die grens om vir ons ’n beter toekoms te bou. Afrikaans is lojaal en ek hoop dat produksies soos hierdie mense sal inspireer om ook daagliks te woeker met hul taal en só ons taal se toekoms te bevestig.”

Die Kaplyn is vanaf 26 April tot 21 Mei by die AfriForum Teater te sien.