Drie jongmense van Pretoria het hierdie week hul hande diep in hul eie sakke gesteek met een doel voor oë: die opbou en uitbou van die Voortrekkermonument (VTM).

Ernst van Biljon (13), Welmari Ostler (11) en Lee-Anne Kotze (13) van Laerskool Wonderboom-Suid het vandeesweek besluit om hul eie hard verdiende sakgeld te vat, hardewarewinkel toe te ry en sakke vol sement te koop om aan die VTM te skenk.

“Toe ons op die VTM se sosiale media sien dat hulle op soek is na skenkings het ons dadelik besluit ons wil graag help,” het ’n opgewonde Lee-Anne vertel.

“Ek en my gesin kom ontsettend baie na die VTM toe so ek het nie twee keer gedink om betrokke te raak nie, want dis vir ons belangrik; nie net vir ons geskiedenis nie, maar vir ons persoonlik; die VTM het al vir jare ’n groot plek in ons harte,” het sy uitgebrei.

“Dit is ons monument.”

Vir Ernst was dit ook belangrik om betrokke te raak want hy glo dat dit hulle plig is om te help bou aan ’n toekoms vir die VTM.

“Dit is belangrik om iets terug te gee veral aan een van ons land se grootste historiese bakens. Ek is baie bly ek het gehelp,” het hy vertel.

Welmari, die jongste van die groep kinders het op haar beurt gesê sy wil graag eendag weet sy het help bou aan die VTM en daarom was hierdie skenking vir haar so spesiaal.

“Ons voorouers het hierdie monument vir ons gebou en nou moet ons ook help bou aan ’n toekoms vir die monument. Ons kan eendag vir ons kleinkinders sê ons het gehelp.”

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument het self ’n draai kom maak om elk van die jongmense persoonlik te bedank vir hul skenking.

“Ek is baie beïndruk met julle,” het hy trots aan hulle gesê.

Langner het afgesluit en gesê dié jongmense is ’n ware voorbeeld vir nie net hul maats nie, maar vir alle Suid-Afrikaners.

“Ek is regtig trots om julle te kon ontmoet en te sien dat daar jongmense is wat sélf inspring om hul kulturele erfenis te beskerm.”

Ernst, Welmari en Lee-Anne wil baie graag hul vriende uitdaag om in hul voorbeeld te volg, hul moue op te rol en hul deel te doen om die monument te help voortbestaan.