Oom Johan Troskie (86) van Springs was ’n jong seun van 12 jaar oud met die amptelike inwyding van die Voortrekkermonument (VTM) en vandag, 74 jaar later, vertel hy dat dié dag hom altyd sal bybly.

Oom Johan het vandag, na baie jare, weer ’n draai kom maak by die monument en sê die monument slaan na al die jare steeds sy asem weg.

“Ek onthou nie baie van die inwyding van die monument nie, maar ek onthou die duisende mense, al die tente en die gevoel wat mens gekry het toe jy daar staan,” het hy vertel.

“In daardie jare het mense van regoor die land gekom om die inwyding, en natuurlik 10 jaar vroeër die hoeksteenlegging by te woon en as mens nou daaraan dink besef jy dit was werklik een van die grootste gebeure in die Afrikaner se geskiedenis.”

Oom Johan vertel dat hy, sedert sy eerste besoek in 1949, nog net drie keer by die VTM was en elke keer het dié gevoel van die inwyding weer teruggekom na hom toe.

“Nog elke keer wat ek hier was, het dit anders gelyk, daar kom heeltyd uitstallings by en alles word net groter en groter en ek besef nou meer as ooit hoekom ek daai dag by die inwyding so gevoel het.”

Tydens sy besoek aan die VTM het oom Johan ook tyd gevat om sy eie familiestamboom na te vors by die Erfenisstigting se biblioteek en hy vertel dat hy net opnuut besef het hoe belangrik dit is om te weet waar jy vandaan kom.

“My familie is oorspronklik van Danzig en hier staan ek vandag op ’n plek wat soveel mense se stories vertel; dit is werklik merkwaardig en mens kan nie anders as om klein te voel nie.”