“Ons almal het ’n geleentheid om ’n impak te maak in ons gemeenskappe én op die opvoeding van ons kinders.” Só het Peregrine Joynt, skoolhoof van die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria, op 23 Mei vertel, tydens ’n opvoedkundige gesprek by die Voortrekkermonument (VTM).

Die Pioniersentrum (PS) by die Voortrekkermonument het oor die jare bekend geword as ’n wêreldklasmuseumuitstalling met ongelooflike opvoedkundige waarde vir oud en jonk en daarom het Joynt, saam met onderwysers van regoor Pretoria, hiér bymekaargekom om die toekoms van onderwys in die land, en die rol van kultuurorganisasies soos die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge en VTM hierop, te bespreek.

“Ons het almal ’n geleentheid om ’n impak te maak,” en daarom het die VTM besluit om hul opvoedkundige aanbod in die laaste paar jaar uit te brei en sodoende die jeug van Suid-Afrika te inspireer, op te voed en te bemagtig om toekomsbouers te word.

“’n Skool is nie ’n gebou nie, dis ’n dinamiese omgewing waar mense gevorm word,” het Joynt uitgebrei en daarom is uitstallings soos dié by die PS en die res van die VTM so belangrik.

Met sy gesprek oor “hoe skole mense vorm”, het hy die onderwysers weer gemaan om hul kultuur, taal en gemeenskap op te hef deur die werk wat hulle doen.

“Die pedagoog MJ Langeveld, het gesê ‘skole vorm mense’ en ek glo daar is waarskynlik ’n rede waarom u op die VTM se uitnodiging om vanaand hier te kuier, reageer het. U het ’n passie vir u skool, kinders en u vakgebied, en waarskynlik vir kultuur en Afrikaans, en hierdie passie is die rede vir die sukses van ’n skool en van ons jongmense,” het hy gemaan. “Die PS deel ook hierdie passie.”

“Die Engelse filosoof Franse Bacon het gesê kennis is mag,” het hy vertel, “… maar wat beteken dit vir ons kinders? Dit is so ’n waar stelling, veral vir onderwys in ons land en daarom het ons hulp nodig van ons gemeenskappe en van plekke soos die VTM om dié mag uit te brei. Spreuke 1 vers 7-8 vertel jou die eerste opvoedingstaak is in die ouerhuis en só word die saadjie geplant vir die gemeenskap om ons klein boompies te laat groei.”

In standerd 5 het Joynt as jong seun besluit om by die Voortrekkerjeugbeweging aan te sluit en, soos hy self vertel, nooit weer teruggekyk nie.

“Ek het eendag ‘ja’ gesê vir iets wat ek nie geken het nie, en vandag besef ek daai ses Vories en twee offisiere het ’n reuse-impak gehad op die mens wat ek vandag is. Ons het almal nou dieselfde geleentheid om vir ’n jongmens daardie ‘Voortrekkerspan’ te wees,” het hy afgesluit.

Net soos Joynt, verstaan dr. Danie Langner, besturende direkteur van die VTM, die verantwoordelikheid en impak van die gemeenskap en die VTM op ons land se jeug, en daarom lê hierdie projek en die VTM se opvoedkundige aanbod hom so na aan die hart.

“In 1980 wou ’n klein, woelige Danie, in graad 2, een Sondagmiddag nie ’n middagslapie vat nie,” het hy vertel. “My pa het toe besluit om my Voortrekkermonument toe te bring en dít het die grondslag gevorm van die man wat ek vandag is.”

“Vandag het ons besluit om julle as onderwysers hier te verwelkom om iets van julle te vra … Onderwysers het ’n geweldige moeilike taak, want hulle is die gietvorms waarin die jeug van vandag gevorm word en daarom wil ons julle vra om met ons hande te vat en ons te help om die jeug te inspireer en op te voed.”

Die VTM se opvoedkundige aanbod strek oor ’n wye veld, van geskiedenis tot sosiale wetenskappe en stel jongmense in staat om in ’n lekker-leer-atmosfeer hul geskiedenis, kultuur en taal uit te leef. In die verlede het duisende skoolkinders al hier kom uitspan om hul skoolkurrikulum aan te vul en daarom nooi die VTM almal om deel te hê aan hierdie nalatenskap.

“Hier by die VTM kan jy speel, jy kan leer, jy kan ervaar en jy kan wees, en ons wil graag alle skole nooi om deel te neem aan ons opvoedkundige programme.”

Die komende skoolvakansie (3 tot 14 Julie) bied die Pioniersentrum weer hul immergewilde Pionierspret-vakansieprogram aan en jy is genooi. Kontak besprekings@kultuurtuiste.org.za vir meer inligting of om jou klas se volgende opvoedkundige uitstappie te bespreek.