Eerste Moerdijk-gedenklesing in jare by die Voortrekkermonument gehou

Die kleindogter van een van die mees bekende argitekte in Suid-Afrika het ’n gedenklesing oor haar oupa se lewe bygewoon by die Voortrekkermonument.

Annemarie Frederich, kleindogter van Gerhard Moerdijk en suster van die bekende skrywer Irma Joubert, het ook die gedenklesing bygewoon waar adv. Marius Ackermann die hoofspreker was.

Dit is die eerste Moerdijk-gedenklesing wat weer in jare weer by die Voortrekkermonument gehou is. “Spesifiek in Maart, omdat dit Moerdijk se geboortemaand en ook sterfmaand is,” sê advokaat Marius Ackerman, voorsitter van die Voortrekkermonument.

“Dit is vir my wonderlik om hierdie gedenklesings by te woon. Ek het almal bygewoon sover ek kon. Soos ek luister na die stories van JG Strijdom, onthou ek die staaltjies wat my ouma oor hom vertel het,” sê Frederich.

Frederich vertel daar haar oupa, Moerdijk, by een van Strijdom se politieke praatjies was, toe Strijdom Moerdijk se vrou vra om ook iets op die verhoog te sê. Iemand uit die gehoor leun toe oor na Moerdijk en vra of hy familie is van dié vrou wat so vurig haar saak stel. Moerdijk het blykbaar sy kop geskud en gesê: “Nee, nie familie nie, maar wel aangetroude familie.”

Lizette Jansen, bestuurder van de Erfenisstigting, vertel dat die Moerdijk-gedenklesing een keer elke jaar gehou is om die lewe van die argitek van die Voortrekkermonument te herdenk. ’n Spreker sou ’n aspek van Moerdijk se lewe uitlig, oor die argitek praat of oor sommige van sy vriende en kennisse.

Ackerman het gesels oor sy navorsing van JG Strijdom wat ook goeie vriende met Moerdijk was. Talle mense het aan sy lippe gehang in die Senotaafsaal by die Voortrekkermonument. Jansen vertel Strijdom en Moerdijk was huisvriende en Strijdom het al Moerdijk se gebou-openinge bygewoon, en Moerdijk weer al Strijdom se politieke toesprake.

“Gerhard Moerdijk is die argitek van die Voortrekkermonument en dis ’n eer om sy lewe en wat hy bereik het, te gedenk. JG Strijdom het ’n groot invloed in sy lewe gehad. Alles wat vanaand vertel is, is deel van ons geskiedenis en is baie spesiaal,” sê Jansen.

Na afloop van Ackerman se toespraak, het die Erfenisstigting ’n oorkonde aan Estelle Pretorius oorhandig, wat in ontvangs geneem is deur haar dogter, Engela Pretorius.

Estelle het ’n groot rol gespeel in navorsing vir die Erfenisstigting en was ook verantwoordelik vir die heruitgawe van die boek, ’n Volk se hulde, onder die titel, Marmer en Graniet. Dié publikasie handel onder andere oor die argitektuur van die Voortrekkermonument.

“Ek is baie trots op my ma. Sy werk so hard vir ons geskiedenis. Sy is al 70 en werk steeds baie hard vir ons taal en kultuur,” sê Engela Pretorius.

Volgens Jansen sal die Erfenisstigting weer die Moerdijk-lesings instel en die volgende een vind reeds in Augustus plaas.

“Augustus is nou wel nie verbind aan Moerdijk soos Maart nie, maar ons sal met daardie tema graag iets vir Vrouemaand wil doen,” sê Jansen.

Jou vriendskap kan die Voortrekkermonument help om ons geskiedenis en erfenis lewendig te hou: www.vtm.org.za/donasies/