Op 21 Maart het hordes mense hul vellies vir tekkies verruil om deel te neem aan die Voortrekkermonument se Erfenispret-speletjie!

Dié projek is vanjaar geloods met die doel om die Voortrekkergeskiedenis lewendig te hou onder Suid-Afrika se jeug, maar soos die amptelike opening bewys het, het volwassenes net soveel aanklank gevind by dié opwindende speletjies. Meer as 60 mense het in die Erfenispret kom deel en almal was dit eens: Daar is geen lekkerder manier om die geskiedenis te leer as om te speel nie.

Met die Erfenispret-speletjie kry besoekers aan die VTM die geleentheid om die geskiedenis van die Groot Trek, Anglo-Boereoorlog en vele meer te leer met ’n lekker resies rondom die monumentterrein.

Tydens die resies ontmoet deelnemers verskeie skatte op die monumentterrein, soos die Danie Theron-standbeeld, die vier hoekfigure van die VTM en die Quo Vadis-beeld.

By elke punt kry deelnemers ook ’n wawiel-balkie om aan hul Erfenispret-rugsak vas te pen, waarmee hulle na die tyd kan spog.

Jaco Cilliers, die VTM-bestuurder van Erfenisbewaring, sê hierdie projek is ’n lekker manier om die geskiedenis te leer ken en lewend te hou.

“Hier is so baie skatte om te ontdek op die VTM-terrein en nie altyd genoeg tyd om als te sien nie,” het hy vertel.

“Daarom is dié projek so waardevol omdat dit jonk en oud leer om met ’n ander oog na die geskiedenis te kyk en speel-speel jou erfenis te herontdek.”

Marguerite van Zyl, wat saam met haar familie aan die speletjie deelgeneem het, sê dit was vir haar baie lekker om te kon rondhardloop en bietjie háár geskiedeniskennis te toets.

“My oupa het ons baie geskiedenis geleer, so dit was regtig lekker om saam met hom en die res van my gesin bietjie hier te kom speel. Ek het selfs nuwe goed geleer, so dit was nie net lekker nie, maar baie interessant.”

Die Hendricks-gesin, wat as algehele wenners uit die stryd getree het, sê dit was vir hulle ongelooflik lekker om op só ’n manier die monument te kon herontdek.

Die Voortrekkermonument wil oud en jonk uitnooi om te kom deel hê aan die pret en jou volgende besoek by die monument ’n Erfenispret-besoek te maak. Inskrywings kos R125 per persoon en sluit jou Erfenispret-rugsak, wawiele en terreinkaarte in. Maak vas jou veters, sit op jou hoed en kom leer en speel saam by die Voortrekkermonument!

Vir enige navrae kontak besprekings@kultuurtuiste.org.za