Mediaverklaring

Gehoorgestremdes kan ook nou die Groot Trek-verhaal beleef

24 September 2023

 

Gehoorgestremdes kan nou vir die eerste keer in die geskiedenis die verhaal van die Voortrekkers en die Groot Trek in videoformaat beleef.

Die Voortrekkermonument is ’n kultuurtuiste waar almal welkom is, ook mense met ’n gehoorgestremdheid.

Op 24 September word Internasionale dag van Gebaretale gevier en die Voortrekkermonument wil ook op hierdie manier teruggee aan ons gemeenskap. Die video wat besoekers in Ontvangs besigtig oor die Voortrekkermonument, word ook nou in gebaretaal vertolk.

Die Voortrekkermonument het Ansie Hoffman genader om die videomateriaal wat in Ontvangs speel, in Gebaretaal te vertolk.

“Dit is vir my ’n groot voorreg om die eerste persoon te wees wat die geskiedenis in Gebaretaal kan vertel. Ek het nog altyd baklei vir die dowes se reg vir kommunikasie, so dit is vir my wonderlik om ook die geskiedenis in Gebaretaal te kan oordra,” sê Hoffman.

Jenalle Behrens, projekbeampte in film en redigering, vertel met die afhandeling van die oriënteringsvideo’s vir Ontvangs in Afrikaans en Engels, met subtitels in Nederlands, Mandaryns, Zoeloe en Setswana, het sy tot die besef gekom dat daar nog nie aan dowe en hardhorende besoekers se behoefte voldoen is nie.

“In die lig daarvan dat September internationale maand vir die dowes is, asook Erfenismaand, is die voorstel ter tafel gelê om ’n oriënteringsvideo te skep met gebaretaal, en so op ’n visuele manier ons erfenis meer toeganklik te maak vir gehoorgestremde mense. Dit is vir my lekker om te weet dat dowe besoekers kan kom deel in die Voortrekkermonument se toekomsbou-ideale,” sê Behrens.

As ’n baken van hoop wil die Voortrekkermonument hoop skep vir die toekoms. Daarom hoop ons dat hierdie gebaar gehoorgestremdes meer welkom laat voel by die Kultuurtuiste.

Jou vriendskap kan die Voortrekkermonument help om ons doelwitte te bereik: https://sluit-aan.vtm.org.za/