Mediaverklaring
15 Desember 2023
Geloftefeeste strek wyd en syd
Vandag word die Gelofte in 24 lande reg oor die wêreld herdenk. Wat dit nog meer indrukwekkend maak, is dat dit oor ses van die sewe kontinente strek.
Die grootste Geloftedag in die wêreld gaan vanjaar nog groter wees. Die Voortrekkermonument bly steeds die tuiste en die bymekaarkomplek vir die grootste Geloftedag in die wêreld en vanjaar gaan geen uitsondering wees nie. Môre vier ons met trots die Gelofte saam met Afrikaners reg oor die wêreld.
In 1994 was daar slegs 250 mense wat die Gelofte by die monument herdenk het. Verlede jaar was daar 20 000 wat by dié baken van hoop die dankdag deurgebring het.
Daar is ’n oplewering in Afrikaans en om ’n Afrikaner wees, sê dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument.
“In 1994 verskyn ’n berig in die Beeld dat slegs 250 mense daardie jaar Geloftedag herdenk het. Die vraag is gevra: Moet Geloftedag nog gevier word? Ons staan 29 jaar later en ons sien daar is ’n oplewering in Afrikaans en Afrikaner-wees. Die bewyse lê in die 20 000 mense wat laasjaar die Gelofte by die monument kom aflê het, die duisende wat die monument kom besoek en die duisende skoliere wat die terrein besoek. Nuwe Geloftefeeskomitees word gestig, in die buiteland ook. Naastenby 300 Geloftedienste word wêreldwyd gehou en daar is tans meer as 200 Geloftefeeskomitees.
Die belofte van die Gelofte leef weer in mense se harte,” sê Langner.
In 24 verskillende lande maak Afrikaners gereed om die Gelofte te herdenk. Van Kanada, Asië, tot in Paraguay. Elkeen in hulle unieke manier en met hulle eie tradisies, in een taal, voor een God.
Flip Buys, Voorsitter van die Solidariteit Beweging sê dat dit steeds belangrik is vir buitelandse Geloftefeeste om voort te gaan.
“Hulle is steeds kultuurburgers, al is hulle nie meer landsburgers nie,” sê Buys.
“Ons herdenk die Gelofte, omdat ons glo ons voorouers het ons ingesluit daarby toe hulle dit afgelê het en landsgrense kan dit nie verander nie,” sê Altea Muller van die Florida Geloftefees in die VSA.
“Hoe ‘amazing’ is dit nie om te sien hoe die klein kindertjies (van hulle wat hier gebore is), wat nie eers die voorreg gehad het om Suid-Afrika as huis te ken nie, opgewonde raak oor Boer wees en dit ten volle te wil uit leef,” sê Siobhan Human, van die Perth Geloftefees in Australië.
“Afrikaans en die Afrikaner leef,” sê Langner.
Hiermee die lys van lande wat Geloftefees reg oor die wêreld herdenk:
Suid-Afrika, Asië, Australië, Botswana, China, Duitsland, Engeland , Japan, Kanada, Luxembourg, Mosambiek, Namibië, Nederland, Nieu Seeland , Nigerië , Paraguay, Mexico, Pole, Portugal, Rusland , Skotland, Swede, UAE en VSA.