Mediaverklaring

15 Desember 2023

Jay du Plessis haal sy hoed af vir Voortrekkermonument

“Ondersteun die Voortrekkermonument met hul 185-projek,” sê die bekende sanger Jay du Plessis, tydens sy konsert by die Voortrekkermonument op 14 Desember.

Die gehoor kon nie ophou hande klap nie, nie net vir Jay se musiek nie, maar ook vir sy mooi boodskap. Jay bedank die Voortrekkermonument vir die werk wat hulle doen.

“Ek haal my hoed af julle!” roep hy en waai met sy pet in die lug.

Na ’n paar van sy ou bekende liedjies soos “Dis hoe ons rol”, het Jay die kinders na die verhoog toe genooi om saam met hom te dans en ’n inspirerende boodskap aan die ouers gegee.

Dit was verfrissend  om die kinders op die verhoog te sien sing en dans. Dit is duidelik dat Jay, self ’n pa, ’n rolmodel vir hulle is.

“Dit was lekker om te sien hoe kinders betrek word, hulle is immers ons land se toekoms,” sê Marisha Hermann wat die vertoning kom kyk het.

Jay se vertoning was beslis een van die hoogtepunte van Gelofteweek en ons is opgewonde oor Juanita om die week op ’n hoogtepunt af te sluit.

Die Voortrekkermonument maak gereed om môre, op 16 Desember, ongeveer 40 000 mense op die  terrein te ontvang wat Geloftedag herdenk.

Verder is die Voortrekkermonument besig met ’n peiling om 185 000 mense te bereik wat nog aktief die Gelofte eerbiedig. As jy een van 185 000 mense is wat nog die Gelofte herdenk, bevestig jou naam hier: https://vtm.org.za/ek-is-een-van-185000/