Mediaverklaring

14 Desember 2023

Op 95 jaar en jare van volkspele 

Die laaste oorlewende lid van die Jakaranda Laer wat destyds by die inwyding van die Voortrekkermonument volkspele gedoen het, vier vandag haar 95ste verjaarsdag.

74 jaar gelede was tannie Kobie een van die dames, van die Jakaranda Laer volkspelegroep, wat getiekkie-draai het by die inwyding van die Voortrekkermonument.

Vandag vier Tannie Kobie Botha haar 95ste verjaarsdag en ’n lid van die Voortrekkermonument, asook Piet van der Walt van die Erika Laer, wat destyds in die Jakaranda laer was, het vir Tannie Kobie gaan gelukwens met haar verjaarsdag en hierdie besonderse mylpaal.

Al kan sy nie meer saam volkspele dans nie, vertel sy steeds van haar volkspele dae. Haar nalatenskap is groot!

Die boekrak staan vol boeke, wat eens op ’n tyd verbeelding en vermaak verskaf het. Tannie Kobie geniet dit om te lees. As jy nie lees nie, maak sy kunswerke met “diamond dotting”. Sy het selfs ’n horlosie in haar kamer wat sy met die steentjies gemaak het. Sy is ’n afgeronde dame. Sy sit-lê op ’n opgevoude bed met haar voete onder ’n hekelkombersie.

Tannie Kobie het in 1948 aan volkspele begin deelneem. Sy het in haar leeftyd vele kinders leer volkspele doen, sy het selfs hulle rokkies en onderbaadjies vir hulle gemaak.

Tannie Kobie vertel met passie en helderheid oor haar herinnering van die inhuldiging van die Voortrekkermonument.

Met die inhuldiging van die monument het die volkspeledansers ’n ossewa gevorm.

Sy vertel hoe die kommando’s verskillende kleur klere gedra het en hoe dit bygedra het om die ossewa te maak.

“Transvaal was groen, Natal was wit, Vrystaat was geel en ek dink Kaapland was rooi,” sê Tannie Kobie.

Met heimwee dink sy terug hoor hoe die wiele die oranje van die Vrystaat was. “Tant Cecile het net gesê: ‘Wiele rol!’ Weet jy, en daar begin die wiele te rol. Dit was ’n prentjie gewees.”

Tannie Kobie se dogter, Ansa Verhoef, het ook van vroeg in haar ma se spore gevolg. Sy vertel hoe sy nog haar jong-dogtertjie voortrekkerrokkie het.

“Ek dink van geboorte af, of voor my geboorte af, het ek Volkspele gespeel,” sê Verhoef.

Esna Noëth, jong volkspeler, bedank tannie Kobie dat sy die volkspeletradisie voort gedra het en dat sy (Esna) vandag Volkspele kan doen en dit kan geniet.

Die Voortrekkermonument koester hierdie oomblik en bedank tannie Kobie vir die nalatenskap wat sy agtergelaat het.