Mediaverklaring

14 Desember 2024

Kuns het sy plek by die kultuurtuiste

“Die eerste stap tot enige kunswerk is om die prentjie op die doek te kry. Van daar af kan ’n mens dit stuk vir stuk ophou,” vertel die wêreldbekende skilderkunstenaar Gerrit Pitout.

Gerrit se vrou, Chané Pitout, meen om na ’n wit doek te kyk, kan vreesaanjaend wees.

“As die prentjie eers op die doek is, kan jy ontspan en jou tone in die verf doop,” sê sy.

Op die effens bewolkte 14de Desember kan ’n mens ’n speld hoor val in die vertrek waar Gerrit Pitout ’n beginnerkunsklas, of “informele verfsessie” soos hy dit noem, aanbied.

Elke kunstenaar is ontspanne, besig met sy of haar volgende meesterstuk.

Dié kunsklasse saam met bekende kunstenaars word gereël deur Kundramus, ’n inisiatief van die FAK, as deel van die Gelofteweek-feesvieringe by die Voortrekkermonument.

Kundramus staan vir die samekoms van kuns, drama en musiek.

Chané Pitout sê dit is belangrik om ook na ander kunstenaars te kyk om ’n mens se eie styl te ontwikkel.

En van Suid-Afrika se beste en mees bekende kunstenaars stal hul werke as deel van Kundramus in die Senotaafsaal by die Voortrekkermonument uit, waar dit ander kunstenaars en mense inspireer.

Van dié kunstenaars wat deel is van Kundramus is onder andere Kobus Möller, Johan Scholtz, Dawie Fourie, Sannette Boshoff, Jacques Müller, Johan Kok, Piet Smit, Lute Vink, Pieter Wentzel, Gerrit Piout, Lucas de Wit en Elsa Cornelissen.

Gerrit Pitout, Lucas de Wit en Elsa Cornelissen is onder die kunstenaars wat vandeesweek elk ’n kunsklas tydens Gelofteweek aangebied het.

Die Voortrekkermonument is trots daarop om as deel van ons kultuuraanbod, ook ’n kultuurtuiste te skep waarvan kuns en kunstenaars deel kan wees. By die Voortrekkermonument is daar werklik iets vir elke persoon.

Môre, die 15de Desember, is dit die laaste dag van die Gelofteweek-feesvieringe en ons hoop om môre baie mense te ontvang, veral met die oog op Geloftedag die 16de Desember.

Die Voortrekkermonument is op soek na 185 000 mense wat nog Geloftedag herdenk. As jy een van 185 000 is, voeg jou naam op die lys by: https://vtm.org.za/ek-is-een-van-185000/.