Mediaverklaring

13 Desember 2023

Ricus Nel bevestig die Gelofte

Die Voortrekkermonument berei voor om 40 000 Afrikaners te ontvang om Geloftedag te vier op 16 Desember. As deel van hierdie voorbereidings, vra die Voortrekkermonument die publiek om die Gelofte saam te herbevestig. Om trots te staan en te sê: “Ek is een van 185 00.”

Dit is 185 jaar sedert die Slag van Bloedrivier, die slag wat as keerpunt in Suid-Afrikaanse geskiedenis gesien kan word. Dié het gelei tot die stigting van republieke en ons ook gebring na waar ons vandag nog die Gelofte kan herdenk en in ons harte bevestig.

“Ek is een van die 185 000 mense wat op Geloftedag die Gelofte gaan herbevestig … Ek glo nog in die Gelofte. Dis vir my baie belangrik en ek glo vir jou ook.”

Só sê die bekende en bekroonde sanger en liedjieskrywer Ricus Nel wat ook “Die Gelofte”-lied saam met Adam Tas, Appel, Chris Chameleon, Juan Boucher en Ghapi sing.

Die Voortrekkermonument, in samewerking met die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), is reeds besig om voor te berei vir die 200-jaar-herdenking van die Groot Trek wat oor in 15 jaar in 2038 gaan plaasvind. Hierdie 185 000 name sal veilig gestoor word in ’n tydkapsule wat dan met die 200-jaar-herdenking bekendgemaak gaan word.

Só kan elke Afrikaner sy nalatenskap maak.

Nel het die gehoor by die Voortrekkermonument se Geloftefees aan die sing gehad en ’n gesellige vertoning vir die hele gesin gebied.

Nel se seuntjie Dawid en sy vrou Liza Nel het die hele vertoning saam gesing. Met sy eie kitaar lyk Dawid alreeds soos ’n rockster.

Nel moedig die publiek aan om die Geloftefees by die Voortrekkermonument by te woon en op 16 Desember die Gelofte saam te herbevestig, soos hy dit doen.