Mediaverklaring

19 Oktober 2023

Gerhard Lourens met gedenkdiens gehuldig by die Voortrekkermonument

 

“Gerhard was ’n man wat diep spore getrap het. ’n Man na God se hart na wie ons altyd kan opkyk. Hy het ontsettende belangrike werk gedoen,” sê dominee Kobus Pretorius.

Op 19 Oktober 2023 is oudvoorsitter van die Voortrekkermonument, Gerhard Lourens, by die Voortrekkermonument onthou met ’n gedenkdiens. Die diens is gelei deur dominee Kobus Pretorius en is deur Lourens die familie en naby vriende bygewoon.

Lourens is veral bekend vir die rol wat hy gespeel het in die ontwikkeling van Verwoerdburg, vandag bekend as Centurion. Gerhardstraat in Centurion is na hom vernoem. Verder was Lourens aktief betrokke by gemeenskapsdiens, kultuursake en ook die kerk.

Pretorius het uit Psalm 16 gepreek en hoogtepunte in Lourens se lewe uitgelig. Hy verwys na Lourens as ’n “seder”.

“Gerhard was ’n rentmeester wat sy gawes in diens van die Here en groter gemeenskap aangewend het,” sê Pretorius.

Generaal Gert Opperman het die huldeblyk aan Lourens geskryf, maar kon nie self teenwoordig wees nie, weens ’n buitelandse besoek. Charl de Wet het die huldeblyk voorgelees.

Opperman skryf in sy huldeblyk dat De Wet een van die eerste lewenslange vriende van die Voortrekkermonument was. Hy het twee termyne op die direksie gedien en het ’n reuserol in die vernuwing van die Voortrekkermonument gespeel. Hy het onder andere ’n groot rol gespeel in die ontwikkeling van die Erfenissentrum, die gedenktuin en ook die nistuin.

“Ek eer Gerhard se nagedagtenis met die wete dat hy diep spore getrap het, ook in my lewe,” skryf Opperman.

De Wet bedank ook die bestuur van die Voortrekkermonument vir die groot professionaliteit en aandag waarmee die geleentheid gereël is.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument, het die bedankings gedoen en ook die familie van Lourens bedank.

“Hierdie monument is nie net vir geskiedenis gebou nie, maar is ook ’n huldeblyk aan die mense in die verlede wat pioniers genoem word. ’n Pionier is iemand wat met daadkrag voortbou aan die toekoms. Vandag onthou ons Gerhard as ’n baanbreker- Afrikanerpionier wat ’n woonbuurt ontwikkel het in ’n stad, ’n groot rolspeler in ons erfenis, maar ook ’n oupa en pa.”

Lourens vind uiteindelik rus in die nistuin aan die westekant van die Voortrekkermonument, wat hy ook destyds help oprig het. Sy niswoorde lui: “Geloof. Hoop. Liefde. Hy sal met liefde onthou word. Soli Deo Gloria.”