Mediaverklaring

1 Desember 2023

Geskiedenis bewaar danksy ’n oupa se storie

Selfs al byt die geskiedenisgogga nooit jou kind nie, die besef van die waarde van geskiedenis wat by hulle gekweek word, is prysloos. Daarvoor wil die Erfenisstigting vandag vir Rodger Scheepers en Johannes Jacobus (JJ) Scheepers opreg bedank.

Rodger het vandag ’n reeks boeke van sy oupa aan die Erfenisstigting, by die Voortrekkermonument, geskenk.

“My oupa het al die jare probeer om my geskiedenis te leer, maar ek moet bieg, die gogga het nooit gebyt nie. Ek verstaan egter hoe belangrik geskiedenis is en hoe belangrik dit is om ons erfenis te bewaar, daarom het ek besluit om my oupa se boekversameling aan die Voortrekkermonument te skenk.”

So sê Rodger Scheepers (62). Rodger se Oupa, JJ Scheepers, was die sekretaris van die Sentrale Volksmonumentekomitee wat onder andere verantwoordelik was vir die oprigting van die Voortrekkermonument in die 1930’s.

“My oupa was ’n skoolhoof met ’n vreeslike interessante en groot boekversameling: geskiedenisboeke, ensiklopedies, 1935 se Google, en ek dink dit is ’n baie waardevolle versameling vir die monument,” sê Scheepers.

Scheepers vertel verder dat sy seun baie lief is vir geskiedenis en groot waarde aan sy oorlede oupa se stories en versameling heg. Die seun het gedeeltes van sy oupa se versameling steeds in sy besit.

Lizette Jansen, bestuurder van die Erfenissentrum, sê om die boeke van een van die monument se stigterslede te hê, is ’n ongelooflike waardevolle toevoeging tot die argief.

Die Scheepers-familie se wortels is baie diep in Suid-Afrikaanse geskiedenis gegrawe. JJ Scheepers se pa (Rodger se oupagrootjie) is die bekende Gideon Scheepers wat ’n rol in die Anglo-Boereoorlog gespeel het. JJ se ma was ook in ’n konsentrasiekamp toe JJ maar nog ’n suigeling was.

Gideon Scheepers was berug onder die Britte vir sy uitstekende rapportryerwerk en sabotasieveldtogte onder die leierskap van generaal De Wet. Gideon Scheepers is op 18 Januarie 1902 uiteindelik deur die Britte tereggestel.

Rodger vertel dat hy onthou dat sy oupa glad nie van die Britte gehou het nie en om hierdie rede nie baie van sy eie ma gehou het nie, omdat sy van Engelse afkoms was.

Petra Luus, museumkurator by die Voortrekkermonument, sê dit is te danke aan Rodger se oupa wat hom geskiedenis geleer het, dat geskiedenis vandag weer bewaar kan word.

“Die skenking is so spesiaal, want deur hierdie boeke hier by ons te kom bewaar, stel hy (Rodger) ons in staat om, net soos sy oupa, die geskiedenis te bewaar en oor te dra aan jonger geslagte. Boeke is die boublokke van die toekoms, want dit leer mens meer oor die lewe oor waar jy vandaan kom en hoe om vorentoe te gaan.”

Die Voortrekkermonument hoop om Scheepers binnekort weer hier te verwelkom.